
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Regsaksies teen NGV wys dit is onuitvoerbaar – Solidariteit
Talle regsaksies van ander organisasies is van stapel gestuur en volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), bevestig dié teenstand weereens dat die NGV onuitvoerbaar is. Lees meer hieronder.
Die talle regsaksies teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bevestig een ding – hierdie stelsel is nie haalbaar nie. Solidariteit het reeds in Mei 2024 hofstukke hieroor ingedien, en nou sluit ander organisasies, soos die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa), by die regstryd aan. Hulle argumente beklemtoon dieselfde kernprobleme wat Solidariteit ook uitlig – die NGV is eenvoudig onuitvoerbaar.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is daar geen manier waarop Suid-Afrika hierdie stelsel kan bekostig nie.
“As die NGV regtig uitvoerbaar of finansieel haalbaar was, sou die minister van gesondheid al lankal probeer het om ons verkeerd te bewys,” sê hy.
Hy wys daarop dat daar in 2011 die laaste keer gepoog is om die koste van die NGV te bereken, en selfs daardie berekening was oppervlakkig en onvolledig.
“Sedertdien is daar herhaaldelik geweier om die werklike koste van hierdie stelsel te bepaal. Die minister sê nie eens watter dienste deur die NGV gedek sal word of hoe dit geïmplementeer gaan word nie. Dit laat net een afleiding toe: hulle weet self die plan is gedoem tot mislukking sodra die werklike besonderhede onthul word.”
Du Buisson erken dat die Grondwet vereis dat daar gesondheidsorg vir almal beskikbaar moet wees, maar hy beklemtoon dat dit nêrens impliseer dat ’n bestaande funksionele stelsel afgebreek moet word ter wille van ’n minder doeltreffende een nie.
Hy stem saam met Hasa se argument in die hofstukke dat toegang tot gesondheidsorg – veral kwaliteit gesondheidsorg – onder die NGV drasties sal afneem.
“In ’n tyd waar die ANC se beleid, insluitend rasseverdelende beleid, onder internasionale kritiek staan, is dit verontrustend dat die minister van gesondheid steeds probeer om die NGV as ’n rassekwessie te verdedig,” sê hy.
Solidariteit glo dit is noodsaaklik dat meer organisasies saamstaan teen hierdie onbekostigbare en onuitvoerbare beleid. Met behulp van volgehoue druk moet die NGV so gou as moontlik heeltemal geskrap word.