
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Regsproses oor “sertifikaat van behoefte” van stapel gestuur
Solidariteit het vandag in ’n regskrywe die president gemaan om nie artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid in werking te stel nie. Hierdie bepalings maak voorsiening vir die daarstelling van ’n “sertifikaat van behoefte” waarvolgens gesondheidsorgpraktisyns by die staat sal moet aansoek doen om te besluit waar hulle mag praktiseer.
Volgens Solidariteit is die bepalings van dié artikels, sowel as enige regulasies wat daaruit spruit, ongrondwetlik en maak dit onregmatig inbreuk op die regte van gesondheidsorgpraktisyns.
“Die voorgestelde bepalings is uiters kommerwekkend en duidelik ongrondwetlik op verskeie gronde. In plaas daarvan om toegang tot gesondheidsorg te verbreed, sal hierdie skema wantroue tussen praktisyns en die staat verhoog, tot nadeel van alle Suid-Afrikaanse burgers,” verduidelik Henru Krüger, hoof van die Mediese gilde by Solidariteit. “Ons meen die bepalings is irrasioneel en hou geen logiese verband met die beweerde doelstellings nie. ’n Sertifikaat van behoefte maak ook ernstig inbreuk op die regte van ons mediese personeel om hulle beroep na hul eie goeddunke te beoefen. Ons gesondheidsorgpersoneel is ook burgers en het ook regte. Hulle is nie bloot bates van die staat wat toegedeel kan word volgens die regering se voorkeure nie.”
Solidariteit voer verder aan dat die voorgestelde skema neerkom op onteiening van mediese personeel se eiendom ten koste van sowel die praktisyns as diegene wat tans van hul dienste gebruik maak.
“Dit is ondenkbaar dat die regering, weens ʼn onvermoë om sy eie instellings in stand te hou, nou wil voortgaan om die fasiliteite en personeel van die privaat sektor gewoon net te kaap,” sê Krüger. “Boonop gaan dit beteken dat enigeen wat tans van hierdie dienste gebruik maak, ook van hul eie gevestigde toegang tot gesondheidsorg ontneem sal word. In plaas daarvan om toegang tot gesondheidsorg wyer oop te stel, gaan hierdie bepalings ons bloot net ’n sieker land maak.”
Solidariteit het verder ook sy bereidwilligheid om hierdie saak verder te dryf bekendgemaak en is van mening dat dit ’n waterskeidingsaak sal word in litigasie in verband met die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die gepaardgaande plundering van belastinggeld.
“Die doel van hierdie bepalings is duidelik om die weg te baan vir die NGV en vir verdere plundering van belastinggeld. Die regering wil beweeg na ’n stelsel waarin gesondheidsorgpraktisyns knegte van die staat word. Ons kan dit nie toelaat nie. Daar is geen regverdiging vir hierdie inperking van hul grondwetlike regte nie en ons staan gereed om dit ook in die hof te bestry,” sluit Krüger af.
Om die volledige aanmaning aan die president te lees, klik hier.