Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
15 uur gelede
reserwebank-moenie-nou-oor-inflasie-oorreageer

Foto Krediet: ChatGPT

Reserwebank moenie nou oor inflasie oorreageer

Dit is nie nou die tyd om oorhaastig op te tree en rentekoerse verder te verhoog nie.

So sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), nadat ʼn inflasiestyging wat die Reserwebank se inflasieteiken ver oorskrei aangekondig is.

Du Buisson sê hoewel inflasie wesenlik gestyg het tot 5%, teenoor verlede maand se syfer van 4,5%, moet rentekoerse nie verder verhoog word nie. Die rentekoers is reeds in Mei vanjaar met 25 basispunte verhoog, juis om verdere inflasiestygings te bekamp.

“Die huidige styging in inflasie het baie min met die rentekoers te doen en is veel eerder as gevolg van die konflik in Iran en die nasleep van hoë brandstofpryse wat nou in ander produkte en dienste ook weerspieël word.

“Op hierdie stadium het dit nog nie juis gebeur nie en is die huidige styging in inflasie so te sê heeltemal te danke aan die brandstofprys,” sê Du Buisson.

“Ongelukkig het die Reserwebank net een hefboom tot hul beskikking as hulle inflasie wil beheer en dit is die rentekoers.

“ʼn Rentekoersverhoging sal nou veral ʼn relatief klein impak op die inflasiekoers hê, maar dit sal wel enige moontlikheid van betekenisvolle ekonomiese groei ongedaan maak.”

Volgens Du Buisson word hoër rentekoerse gewoonlik ingespan om ʼn vuurwarm ekonomie wat inflasie aanblaas effens af te koel.

“Dié ekonomiese teorie is geldig, maar in die praktyk speel die ekonomie nie in ʼn handboek af nie. Ander kwessies – soos ʼn oliekrisis – kan ook ʼn beduidende impak op inflasie hê, hoewel so ʼn impak gewoonlik van korter duur is.

“Die oorlog wat tans inflasie aanblaas duur ongelukkig langer voort as wat meeste ontleders verwag het. Die uitwerking daarvan op inflasie sal dus ietwat langer gevoel word, maar dit verander nie die feit dat dit uiteindelik sal oorwaai nie,” sê hy.

Solidariteit doen daarom ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee, wat Donderdag vergader, om hulle nie teen die huidige inflasiekoers blind te staar nie, maar om eerder berusting te vind daarby dat die huidige tendens tydelik van aard en buite hul beheer is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel