loading
Artikels
21 uur gelede
rooikaart-medical

Foto Krediet: OkayDeer

Opgewondenheid/vrees/angs/onsekerheid: Rooikaart-‘medical’

In hierdie blog bespreek Deon Viviers, organiseerder van Solidariteit se Mynbousektor, die verpligte jaarlikse mediese ondersoeke wat mynwerkers moet ondergaan, asook die stres wat daarmee gepaardgaan. Om te wag vir die uitslae veroorsaak net verdere stres, wat deur onvriendelike personeel en ʼn emosielose atmosfeer vererger word. Kan jou jouself hiermee vereenselwig? Lees meer hier.


Deur Deon Viviers

Vroegoggend klok ek in, die masjien wys rooi … “Wat nou?” flits dit dadelik deur my gedagtes. Dan wys die masjien “medical”. Ai, dis weer sulke tyd – ek het 30 dae om dit te doen. Ek begin dink aan die tyd wat ek gaan moet sit en wag om die “medical” gedoen te kry. Sweetpêrels begin teen my slape uitslaan, en ek dínk nog net aan die toets. Maar dan word ek teruggeruk na die werklikheid. Die gedagtes aan die toets sal vir eers moet wag. Ek moet ondergronds gaan.

Die tyd kom nader. Die afspraak is gemaak, en my toesighouer herinner my daaraan. Dit voel amper of die Oordeelsdag aangebreek het. Nóg nader aan die tyd begin die emosies en ek wonder wat hierdie keer anders gaan wees? Ek sê vir myself: “Niks”. Ek móét dit net doen.

Ek stap die lokaal binne. Almal wat hul “medical” moet doen sit daar. Sommige trek reeds by hul tweede of selfs derde dag. Skielik voel dit van benoudheid of iemand op my bors druk. “Bonatuurlike kragte?” dink ek.

Nóú begin my gedagtes met my op loop gaan. Dit voel soos dryfsand wat my stadig intrek. “Gaan ek my ‘medical’ slaag? Gaan my bloeddruk reg wees? Is my suiker reg? En my cholesterol? (Liefie het gesê ek moet dit laat toets, maar nee.) Is my oë en ore oukei?” Dan, skielik, tref dit my – die tjongola (fiksheidstoets)!

Terug by die werklikheid, wonder ek: “Is die gewag rêrig nodig? Ek het mos ʼn afspraak. Kan dit nie vinniger gedoen word nie? Kan tegnologie nie hier help nie?” Ek kyk rond. “Gaan daar genoeg mense wees om ons te help?” Die wat daar is, sit emosieloos.

Terwyl al hierdie vrae deur my gedagtes maal, wonder ek of die “aircon” werk, want ek voel hoe ʼn straaltjie sweet teen my rug afloop. Terwyl ek in die vertrek rondkyk, dink ek aan die vloekwoord wat almal hier ken … LMI. Dan besef ek, hier sit ʼn klomp wat ʼn LMI-probleem het. ʼn Paar van hulle gaan seker “fat farm” toe gestuur word.

As ek my ondersoek slaag en my “vitals” is reg, dan moet ek tjongola. Die ergste is om die uiters onrealistiese trappe te klim. Ek het nêrens al ooit sulke groot trappe ondergronds of selfs bogronds gesien nie. Ek glo almal wat hier sit, stres oor die tjongola. “Gaan my bene weer vir twee of drie dae styf wees?” As ek nie die tjongola slaag nie, het ek net nog twee kanse …

“Kan ʼn mens binne twee dae fiks word?”

Ai-ai! Al die vrae en als wat deur my gedagtes flits maak my lighoofdig.

Die hele stresvolle storie, net vir ʼn papier wat sê jy is “FIT”, wat ʼn gevoel van opgewondenheid bring omdat jy klaar is … tot volgende keer. Dan kom daai een woord, “UNFIT”, wat weer die benoudheid na jou bors laat terugkeer. Die onvriendelike, emosielose personeel help ook nie om die skok te verlig nie.

Ná jou “medical” voel dit soos met elke jaar se nuwejaarsvoornemens: “Ek gaan nóú begin om die stres te verlig vir my volgende ‘medical’”.

Maar soos met alle voornemens hou dit net ʼn week, of dalk drie, as dit so lank is.

Sterkte met julle “medicals”.


Deon Viviers is ʼn organiseerder van Solidariteit se Mynbousektorgroep.


Lees meer blogs en artikels oor verskeie onderwerpe wat op jou betrekking het op Solidariteit se Mynbousektorgroep. Is jy nog nie ʼn lid van Solidariteit nie? Klik hier om vandag nog aan te sluit en word deel van jou beroepsmeenskap!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel