loading
Artikels
11 maande gelede
sagte-vaardighede-vir-it-werknemers

Foto Krediet: OkayDeer

Sagte vaardighede vir IT-werknemers

Deur Nico Strydom

Die vooruitgang in tegnologie het opnuut die noodsaaklikheid van sagte vaardighede in die kollig geplaas.

Tradisionele loopbane en -werkswyses is besig om vinnig te verander. Sommige val selfs weg namate die wêreld en maatskappye toenemend beweeg na die outomatisering van ʼn magdom funksies wat uiteindelik sekere take, werk en vaardighede aansienlik gaan verander. Die koms van kunsmatige intelligensie het ook die vraag na menslike vaardighede, oftewel emosionele en sosiale sagte vaardighede, laat toeneem.

Sagte vaardighede word gedefinieer as persoonlike eienskappe wat iemand in staat stel om effektief en in harmonie met ander mense om te gaan. Dit is karaktereienskappe en interpersoonlike vaardighede wat verhoudings met ander mense kenmerk en wat ander vaardighede in die werkplek aanvul.

LinkedIn, die sosialemediaplatform vir professionele mense, se 2024 lys van vaardighede wat die meeste in aanvraag is, het aan die lig gebring dat werkgewers al meer op die uitkyk is vir sagte vaardighede te midde van KI en outomatisering.

Die 10 sagte vaardighede wat deur LinkedIn geïdentifiseer is, is kommunikasie, kliëntediens, leierskap, projekbestuur, bestuur, ontleding, spanwerk, verkope, probleemoplossing en navorsing.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum het in een van sy The Future of Jobs-verslae 15-topvaardighede vir 2025 gelys. Dit sluit onder meer in analitiese denke en innovasie, komplekse probleemoplossing, kritiese denke en analise, kreatiwiteit, oorspronklikheid en inisiatief, leierskap en sosiale invloed, en emosionele intelligensie.

Deloitte het reeds in ʼn 2017-verslag voorspel dat beroepe waarin sagte vaardighede deurslaggewend is, teen 2030 twee derdes van alle poste sal uitmaak, vergeleke met die helfte van alle poste in 2000.

Die navorsing wat hieroor gedoen is, is dit eens dat die arbeidsmark van die toekoms ʼn nuwe soort werker sal vereis, naamlik iemand wat tegniese kundigheid naatloos met kritieke sagte vaardighede soos kreatiwiteit, emosionele intelligensie en strategiese denke kan vermeng.

Effektiewe kommunikasie word as een van dié belangrikste sagte vaardighede vir IT-werkers beskou weens die noodsaaklikheid daarvan om ingewikkelde tegniese inligting op ʼn duidelike en bondige wyse oor te kan dra.

Solidariteit bied ’n omvattende kursus aan om jou te bemagtig om goed in jou werkplek te kan kommunikeer. In hierdie kursus sal jy leer wat kommunikasie is en jou luistervaardigehede sal opgeskerp word.

Solidariteit se IT-netwerk is jou loopbaanvennoot en bied netwerkgeleenthede wat jou kan bemagtig en waar jy jou professionele netwerke kan uitbrei. Tydens dié netwerkgeleenthede kan jy met ander kundiges skouers skuur wat die uitdagings van die beroep verstaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel