
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit vra VN om sélf na rassewette in SA te kom kyk
Solidariteit het die Verenigde Nasies (VN) in ʼn klagte versoek om sélf na Suid-Afrika te reis om in te gryp by die regering se beheptheid met rassewetgewing.
In die klagte verkla Solidariteit die regering van minagting van internasionale regsbeginsels oor regstellende aksie, deur die voortdurende pogings om rasvoorskrifte vir die werkplek op Suid-Afrikaners af te dwing.
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is Suid-Afrika tot die internasionale reg verbind en moet hy dus gehoor gee aan die beginsel dat maatreëls vir regstellende aksie tydelik eerder as permanent van aard móét wees.
“Die huidige rassebestel in Suid-Afrika is een van ʼn onophoudelike najaag van rasseverteenwoordiging in alle sfere van die samelewing. Dit bevoordeel net die elite en politieke tenderpreneurs en sluit die deur oop vir vernietigende kaderontplooiing. Dit het geen positiewe impak op ongelykheid, armoede of werkloosheid nie.
“Ons meet die impak daarvan juis op grond van die resultate van die wette, eerder as die bedoelings daarmee en die resultate is duidelik. Dit lei tot groter werkloosheid en armoede, kniehalter ekonomiese groei, én diskrimineer teen minderhede op grond van hulle velkleur,” sê Hermann.
In die klagte dui Solidariteit ook aan hoe die regering sy ooreenkoms met Solidariteit, wat onder toesig van die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik is, verontagsaam.
Regulasies oor gelyke indiensneming en gepaardgaande sektorteikens of rassekwotas vir elke beroepsektor is in April vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer, en gee geensins erkenning aan die ooreenkoms se bepaling dat verskeie ander faktore buiten ras ook tydens indiensneming in ag geneem moet word nie.
Gevolglik versoek Solidariteit die volgende ingryping van die VN:
– ʼn Dringende besoek aan die land waartydens hierdie klagte, asook Suid-Afrika se beheptheid met nimmereindigende ‘transformasie’, ondersoek kan word;
– om ʼn proses tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering te bemiddel waartydens hierdie klagte hanteer kan word; en
– om raad te gee rakende die spesifieke klagte en die tydelike aard van regstellende aksie in Suid-Afrika.
Hierdie beroep op die VN volg kort op die publikasie van ʼn verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) waarin gewaarsku word dat die sektorteikens onder meer tot die gedwonge aflegging van nagenoeg 70 000 wit mans oor alle beroepsektore heen gaan lei.
In nog ʼn onlangse verslag van die SNI – dié keer in samewerking met die Vryemarkstigting – word uitgewys hoe SEB-beleid sorg dat 3% se BBP-groei jaarliks as gevolg van hierdie beleid verbeur word.
Sien die verslag oor sektorteikens hier en die een oor die koste van SEB hier.
Klik hier vir Solidariteit se klagte aan die VN.