Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit eis duidelikheid oor Afrikaanse skole se reg tot bestaan ná komitee-uitlatings
Solidariteit vra vir duidelikheid van die minister van basiese onderwys oor of die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) wél as wapen gebruik word om sogenaamde Model-C-skole te teiken.
Vrae waarmee minister Siviwe Gwarube Dinsdag deur die portefeuljekomitee oor basiese onderwys bestook is, skep die indruk dat komiteelede die Bela-klousules as ʼn wapen teen Afrikaanse skole en Afrikaanse onderrig wil inspan.
Tydens die komiteevergadering is daar verskeie aanvallende vrae gevra en antwoorde gegee wat spesifiek gehandel het oor die verwydering van Afrikaans as historiese hindernis en die groter gebruik van Engels om uitsluiting aan te spreek.
Hierdie uitlatings in die komitee skep die indruk dat Afrikaanse skole wél as Model C-skole geteiken word en daarom ag Solidariteit dit nodig om die minister te vra vir duidelikheid of dit wél die departement se koers weerspieël.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit, is die nuwe onweerswolke wat saampak, kommerwekkend, des te meer omdat dit uit mediaberigte blyk dat die minister van basiese onderwys self die storms aanwakker.
“As dit waar is, verbreek sy ’n getekende ooreenkoms met Solidariteit wat basiese beskerming aan Afrikaanse skole bied en verbreek sy as DA-minister ’n verkiesingsbelofte. Vir die DA was Bela immers ’n rooilyn,” sê hy.
Dr. Hermann sê Solidariteit verwag dat die minister haar standpunt openlik en duidelik stel. “Ons gee haar eers kans om te verduidelik,” sê hy.
“Solidariteit, wat ’n ooreenkoms met haar en die presidensie by Nedlac onderteken het én die kiesers wat ’n belofte van haar party ontvang het, het die reg om te weet waar sy staan,” sluit hy af.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, is duidelikheid nou noodsaaklik juis omdat die minister self reeds in die verlede aangedui het dat Bela nie as ’n politieke wapen gebruik sal word nie.
“Sy het selfs verklaar dat bekommernisse oor die bedreiging teen Afrikaanse skole ongegrond is, omdat skole nie vir enge politieke belange misbruik mag word nie, en plekke van veiligheid en leer moet bly.
“Die vergadering skep egter wél die indruk dat daar ʼn politieke honger is om Afrikaans uit skole te verdryf,” sê hy.
“Die toon en inhoud van die vrae het soos ’n dreigement oorgekom: druk om Afrikaanse onderrig te verswak; druk om skole te verengels; druk om Afrikaanse enkelmediummodelle te breek. Dit weerspreek die minister se eie stellings. Daarom vereis ons nou duidelikheid oor die veiligheid van Afrikaanse skole en die toekoms van Afrikaanse onderrig,” sê Botha.
Solidariteit herhaal dat die beskerming van moedertaalonderrig en Afrikaanse skole ononderhandelbaar is en beskou dit as ’n beginsel wat die Solidariteit Beweging reeds ’n jaar gelede tydens sy groot oranje optog teen Bela duidelik gestel het.