Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Suno: ʼn handige KI-hulpmiddel vir jou klaskamer
Elke onderwyser ken daardie gevoel: Jy het ʼn konsep al drie keer verduidelik, maar dit wil net nie heeltemal vassteek nie. Of dalk soek jy ʼn nuwe manier om jou klas aan die gang te kry en leerders betrokke en nuuskierig te maak. Dis juis waar ʼn hulpmiddel soos Suno handig te pas kan kom.
Suno is ʼn KI-musiekhulpmiddel waarmee jy vinnig liedjies, rympies, deuntjies en selfs sportkrete kan skep. Jy tik net wat jy nodig het, byvoorbeeld: “ʼn vrolike Afrikaanse rympie oor die watersiklus vir graad 6” of “ʼn kort, energieke sportkreet vir ons hokkiespan”, en Suno skep ʼn klankbaan met stemme en musiek.
Hoewel Suno nie spesifiek as ʼn onderwysplatform ontwikkel is nie, kan dit beslis ʼn nuttige hulpmiddel in ʼn onderwyser se gereedskapskis wees.
Hoe kan dit in die klas help?
Musiek en rympies vorm al lank deel van leer. Dink maar hoe maklik leerders ʼn liedjie se woorde onthou, maar soms sukkel om feite vir ʼn toets te onthou. Met Suno kan jy daardie natuurlike ritme gebruik om leerinhoud meer toeganklik te maak.
Jy kan dit gebruik vir:
• • tafels en spelreëls;
• • natuurwetenskap-temas, soos fotosintese, planete of die watersiklus;
• • geskiedenisfeite of tydlyne;
• • taalonderrig, rym, alliterasie en uitspraak;
• • klasroetines, soos ʼn opruimliedjie of welkomdeuntjie; of
• • waardes soos respek, verantwoordelikheid en deursettingsvermoë.
Dit kan ook leerders help wat beter leer deur te luister of wat baat vind by kort, herhalende opsommings.
En op die sportveld?
Suno kan onderwysers ook buite die klaskamer help. Onderwysers en afrigters kan dit gebruik om sportkrete, spanliedjies en interhuisliedjies te skep. ʼn Skool se naam, kleure, leuse of waardes kan maklik in ʼn liedjie verwerk word, en roep-en-antwoord-krete werk veral goed op pawiljoene en by sportwedstryde.
Net ʼn paar dinge om in gedagte te hou
Soos met enige KI-hulpmiddel, bly jou oordeel belangrik. Gaan altyd die lirieke na vir feitelike akkuraatheid, ouderdomstoepaslikheid en gepaste taalgebruik. Moet ook nie persoonlike leerderinligting in jou opdragte gebruik nie, en maak seker jy verstaan Suno se gebruiksreëls – veral as jy die musiek op YouTube of tydens groter geleenthede wil gebruik.
KI sal nooit die onderwyser vervang nie, maar dit kan jou help om vinnig iets vars, kreatief en bruikbaar te skep wanneer jy min tyd het en ʼn klas vol leerders se aandag moet behou.
Soms is ʼn eenvoudige rympie al wat ʼn leerder nodig het om ʼn moeilike konsep te laat vassteek.
Hou Solidariteit se Onderwysernetwerk dop vir nog oulike idees!