loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
subsidiekrisis-by-skole-wanbestuur-laat-merk-op-skole-en-onderwysers

Foto Krediet: OkayDeer

Subsidiekrisis by skole: Wanbestuur laat merk op skole én onderwysers

Die Solidariteit Onderwysernetwerk waarsku dat die voortgesette wanbestuur van onderwys deur provinsiale departemente nie net skole finansieel en administratief kniehalter nie, maar ook ʼn direkte tol van onderwysers eis.

Dit is veral beheerliggaamonderwysers wat dikwels eerste die prys betaal wanneer begrotings onder druk kom en besnoeiings noodgedwonge gemaak moet word.

Die waarskuwing volg te midde van nóg berigte oor skole wat onder ernstige finansiële druk steier weens subsidies en betalings wat laat of onvoldoende geskied.

Die jongste voorbeeld is Sonitus, ʼn skool vir gestremdes in Pretoria, wat volgens berigte finansieel swaarkry en waar die situasie reeds ʼn negatiewe invloed op onderrig en ondersteuning aan kwesbare leerders het.

Volgens Johan Botha, woordvoerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk, begin hierdie soort stories nou ʼn ontstellende patroon vorm.

“Dit voel asof Suid-Afrikaners byna weekliks moet lees van nóg ʼn skool wat finansieel krepeer omdat die staat nie sy verpligtinge betyds nakom nie. Hierdie krisis raak nie net skole se balansstate nie, maar ook kinders, onderwysers en die gehalte van onderrig regstreeks,” sê Botha.

Volgens die Solidariteit Onderwysernetwerk word skole oor jare heen toenemend gedwing om self die gapings van ʼn sukkelende staat te vul.

Dit sluit onder meer die aanstelling van bykomende onderwysers deur beheerliggame in omdat departemente nie voldoende poste beskikbaar stel nie, betalings laat geskied of skole met onvoldoende hulpbronne laat.

“Skole probeer bloot oorleef en kinders se onderrig beskerm, maar dan word dieselfde skole en hul personeel uiteindelik gestraf wanneer finansiële druk opbou,” sê Botha.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk wys daarop dat beheerliggaamonderwysers dikwels die eerste slagoffers is wanneer skole finansieel onder druk kom.

Hierdie onderwysers verrig dikwels dieselfde werk as staatsaangestelde personeel, maar hul poste is meer kwesbaar omdat skole self die salarisse moet dra.

“Dit is tragies dat toegewyde onderwysers, wat help om oorvol klasse draaglik te maak en akademiese standaarde te beskerm, dikwels eerste hul werksekerheid verloor wanneer begrotings knak.

“Die staat se wanbestuur word só regstreeks op opvoeders en kinders afgelaai,” sê Botha.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk beklemtoon verder dat talle skole reeds swaar trek onder toenemende munisipale kostes, infrastruktuurprobleme, kragonderbrekings en administratiewe laste, terwyl departemente gereeld laat is met betalings of onvoldoende ondersteuning bied.

“Beheerliggame en skole kan nie aanhoudend soos nooddiensspanne optree vir ʼn staat wat sy basiese verantwoordelikhede versaak nie. Onderwysers word emosioneel en finansieel uitgeput, terwyl skole gedwing word om met minder méér te probeer doen,” verduidelik Botha.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk doen ʼn beroep op onderwysdepartemente om verantwoordelikheid vir hul eie bestuursmislukkings te aanvaar eerder as om beheer oor skole verder te probeer sentraliseer of nóg druk op beheerliggame te plaas.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel