Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Gautengse onderwysdepartement moet hande van skole se finansies afhou
Die Solidariteit Onderwysernetwerk neem met kommer kennis van die Gautengse LUR vir onderwys, Lebogang Maile, se moontlike voorneme om die desentralisering van skole se administratiewe en finansiële funksies te laat hersien.
Hierdie gesprek volg nadat sommige skole se krag- en watertoevoer afgesny is en die departement nou meen skole en beheerliggame kan nie hul verantwoordelikhede nakom nie.
Vir die Solidariteit Onderwysernetwerk lyk hierdie nie na ʼn poging om skole te ondersteun nie, maar eerder na ʼn poging om groter beheer oor skole se finansies en bevoegdhede te verkry.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, is die ironie van Maile se voorneme opvallend.
Botha wys daarop hoe sommige skole se kragtoevoer juis onlangs afgesny is omdat die Gautengse onderwysdepartement self versuim het om betyds aandag aan sekere administratiewe en finansiële verpligtinge – waaronder erfbelasting – te skenk.
By baie van die skole het dit nie gebeur omdat beheerliggame versuim het om hul pligte na te kom nie. Inteendeel, die departement se nalatigheid het skole gedwing om noodmaatreëls in plek te stel terwyl leerders en onderwysers die gevolge moes dra.
Botha sê dit is onaanvaarbaar dat die departement nou die skuld op beheerliggame probeer plaas.
“Die departement kan nie eers sy eie administratiewe huis in orde kry nie, maar nou word daar gesinspeel dat skole se bevoegdhede verder ingeperk moet word. Dit wek ernstige agterdog en kommer oor die werklike motief agter hierdie voorstelle.
“Beheerliggame en skoolbesture hou die stelsel reeds onder geweldige druk aan die gang. Wanneer probleme ontstaan, is dit dikwels juis hierdie strukture wat inspring, oplossings vind en krisisbestuur toepas.
“Nou lyk dit asof die departement die rol van beheerliggame wil afwater eerder as versterk,” sê Botha.
Solidariteit waarsku dat sentralisering nie noodwendig beter bestuur beteken nie.
Marius Botha, ʼn onderwyskonsultant wat nou met Solidariteit se Onderwysernetwerk saamwerk, sê die teendeel is waar. Volgens hom funksioneer Suid-Afrikaanse skole dikwels juis suksesvol omdat beheerliggame en gemeenskappe ʼn gevestigde belang in hul skole het en vinnig op probleme kan reageer.
“Wanneer besluite dus verder van skole en gemeenskappe weggeneem word, word skole dikwels minder doeltreffend bestuur.
“Meer sentrale beheer beteken nie outomaties beter bestuur nie; soms beteken dit bloot meer burokrasie en minder aanspreeklikheid,” sê hy.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk meen die departement moet eerder op sy eie verantwoordelikhede fokus en tekortkominge aanspreek voordat dit poog om nóg beheer van skole oor te neem.