loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-verwelkom-agoa-verlenging-en-moedig-regering-aan-om-vsa-se-olyftak-ernstig-op-te-neem

Foto Krediet: Envato Elements

Solidariteit verwelkom Agoa-verlenging en moedig regering aan om VSA se olyftak ernstig op te neem

Solidariteit verwelkom die aankondiging van die Withuis oor die verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) en doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om hierdie betekenisvolle hand van vriendskap vanuit die Verenigde State na waarde te skat.

Agoa hou beduidende voordele vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in en bied aan kwalifiserende lande in Afrika toegang om duisende produkte teen voorkeurvoorwaardes na die VSA uit te voer. Die moontlike beëindiging van dié ooreenkoms het ernstige onsekerheid geskep en gedreig om beduidende skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en werksgeleenthede te berokken.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het Solidariteit lankal ’n beroep op die verlenging van Agoa gedoen en oor ’n lang tydperk ook ’n belangrike nie-staatlike diplomatieke rol gespeel om vir die behoud van die ooreenkoms te pleit en dit te bevorder.

“Solidariteit het oor ’n lang tydperk aktief gepleit vir die behoud en verlenging van Agoa, omdat dit nie bloot oor handel gaan nie, maar oor werk, ekonomiese groei éen stabiliteit vir gewone Suid-Afrikaners. Die aankondiging bring groot verligting. Ons verwelkom hierdie besluit en sien dit as ’n positiewe stap wat ekonomiese sekerheid kan bevorder,” sê Du Buisson.

Du Buisson sê die Suid-Afrikaanse regering behoort hierdie spreekwoordelike olyftak vanuit Washington aan te gryp en te verseker dat Suid-Afrika nie deur onnodige beleidskeuses of diplomatieke spanning sy verhouding met een van sy belangrikste handelsvennote verswak nie.

“Hierdie besluit wys dat daar steeds ruimte vir samewerking en goeie betrekkinge bestaan. Suid-Afrika behoort versigtig op te tree om nie deur onnodige geopolitieke posisionering of beleid sy belangrikste handelsvennoot te vervreem nie. Beginsels van neutrale internasionale belyning en pragmatiese diplomasie behoort die vertrekpunt te wees,” sê Du Buisson.

Solidariteit benadruk dat Agoa nie bloot ’n tegniese handelsooreenkoms is nie, maar ’n meganisme wat duisende Suid-Afrikaanse werkers, gesinne en ondernemings raak. Besluite oor internasionale betrekkinge behoort daarom die praktiese uitwerking daarvan op gewone mense in ag te neem.

Verder sal Solidariteit voortgaan om sy deel te doen deur insette te lewer en aan prosesse deel te neem om, waar nodig, ook internasionaal in belang van die land en sy mense op te tree.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel