Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Skuldkrisis by Gautengse skole wys finansiële bestuurstelsel moet hersien word
Leré Nel
Lebogang Maile, die Gautengse LUR vir onderwys, het Sondag tydens ʼn mediakonferensie gesê die departement gaan moontlik die desentralisasiemodel, wat skole eienaarskap oor hul eie uitgawes gee, vir openbare skole hersien.
Dít nadat kragtoevoer en in sommige gevalle ook watertoevoer na verskeie skole weens agterstallige skuld aan munisipaliteite, afgesny is. Hierdie besluit het opnuut die kollig geplaas op die wyse waarop skole se finansies, munisipale rekeninge en administratiewe verantwoordelikhede bestuur word.
Die LUR het genoem die departement oorweeg verskeie opsies om skole se toenemende skuld vir munisipale dienste hok te slaan. Dit sluit moontlik ʼn hersiening van die model in waarvolgens fondse aan skole of beheerliggame oorbetaal word sodat hulle self uitgawes soos water, elektrisiteit, vullisverwydering, sanitasie en instandhouding kan bestuur.
Volgens berigte het Gautengse skole teen die einde van Maart meer as R583,9 miljoen aan munisipaliteite geskuld. Die grootste probleem lê glo in Johannesburg, waar skole sowat R390,71 miljoen aan die metro skuld. Skole in die Tshwane-metro skuld R51,7 miljoen, terwyl Gautengse skole ook R6,32 miljoen aan Eskom skuld.
Maile het aangevoer die skuldkrisis is die rede waarom verskeie skole se krag en water afgesny is, en dat die krisis deur Gauteng se vinnige bevolkingsgroei vererger word. Dit oorweldig glo die stelsel. Die provinsie benodig blykbaar nog sowat 200 nuwe skole om in die behoeftes van die groeiende aantal leerders te voorsien.
Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), meen die huidige situasie bevestig dat die finansiële bestuurstelsel in die Suid-Afrikaanse onderwys dringend hersien moet word.
“Hoewel groter outonomie vir skole in beginsel die ideale model is, toon die werklikheid dat hierdie benadering nie tans vir alle skole moontlik is nie,” sê Prinsloo.
Volgens haar ervaar sekere skole ernstige probleme met begrotingsbeheer, munisipale skuld en administratiewe kapasiteit. Dit beteken gerigte ingryping sal in sommige gevalle nodig wees.
Sover Prinsloo kan vasstel, is Maile se standpunt dat ʼn meer gesentraliseerde benadering nie noodwendig op alle skole toegepas sal word nie. Dit sal eerder van toepassing wees op skole wat beduidende finansiële en administratiewe probleme ondervind. Dít is na haar mening ʼn verantwoordelike benadering.
Sy waarsku egter dat so ʼn hersiene stelsel nie skole wat reeds goed funksioneer moet straf nie. Skole wat hul begrotings verantwoordelik bestuur, behoort volgens haar steeds finansiële outonomie te geniet.
“Skole wat suksesvolle en verantwoordelike begrotingsbeheer toepas, moet toegelaat word om hul eie subsidies effektief te bestuur sonder onnodige sentrale inmenging,” sê Prinsloo.
Sy sê ook die departement se ingryping by sukkelende skole moet tydelik en bemagtigend eerder as permanent wees.
“Die departement se ingryping behoort te werk soos wanneer ʼn instelling onder administrasie geplaas word – met die doel om beheerliggame en finansiële personeel deur opleiding, ondersteuning en kapasiteitsbou weer op koers te kry,” sê Prinsloo.
“Die doelwit moet altyd wees om skole te versterk, nie om outonomie permanent te ondermyn nie.”
Prinsloo sê ʼn hersiene stelsel moet ook die klassifikasie van individuele skole binne die kwintielstelsel heroorweeg. Sy verduidelik dat die kwintielstelsel self in wetgewing vasgelê is, maar dat skole se kwintielstatus hersien moet word waar hul werklike sosio-ekonomiese omstandighede nie meer met hul huidige klassifikasie ooreenstem nie.
Volgens Prinsloo word skole toenemend as kwintiel 5-instellings geklassifiseer, terwyl hulle in werklikheid in gemeenskappe funksioneer waar ouers en huishoudings onder groot finansiële druk verkeer.
“Sulke skole behoort na ʼn laer kwintiel afgeskuif te word sodat hul subsidies die werklike koste per leerder en hul gemeenskappe se omstandighede beter weerspieël,” verduidelik sy.
Die Gautengse skoleskuldkrisis dui dus op ʼn groter probleem: ʼn eenvormige benadering tot skole se finansies werk nie oral ewe goed nie. Volgens Prinsloo kan ʼn gebalanseerde model – waarin suksesvolle skole hul outonomie behou terwyl skole met ernstige probleme tydelik ondersteun word – help om die onderwysstelsel meer doeltreffend en billik te bestuur.