loading
avatar
Mediaverklarings
3 dae gelede
eers-samancor-nou-glencore-en-steeds-geen-ingryping

Foto Krediet: Verskaf

Afleggingsbloedbad: Eers Samancor, nou Glencore en steeds geen ingryping

Nóg ʼn groot werkgewer in die ferrochroombedryf se afleggingsproses gaan voort nadat die Suid-Afrikaanse regering versuim het om in te gryp of behoorlik ag te slaan op waarskuwings daaroor.

Solidariteit het kennisgewing ontvang dat Glencore-Merafe die artikel 189-afleggingsproses vir sy Boshoek- en Wonderkop-ferrochroomsmelters in die Rustenburg-omgewing gaan deurvoer, aangesien dié smelters nou buite aksie gestel gaan word.

Samesprekings met die regering om vir beter kragtariewe te onderhandel wat hierdie smelters aktief sou kon hou, het nie die nodige oplossings opgelewer nie.
ʼn Groot gedeelte van Glencore se nagenoeg 2 400 werknemers word hierdeur geraak.

Boonop volg Glencore se aankondiging net enkele dae ná ʼn soortgelyke afleggingskennisgewing van Samancor Chrome, wat sowat 2 496 poste raak.

Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf by Solidariteit, het die regering nie genoeg gedoen om hierdie krisis af te weer nie.

“Inteendeel, die regering het verdere mediasie met Solidariteit afgesweer en het dus tot die huidige situasie bygedra.

“Ons hoop dat die regering se oë nou oopgaan vir die krisis wat op hande is. Hierdie ís ʼn krisis en dit kan nie verder ontken word nie. Die kennisgewings by Samancor en nou Glencore toon hoe dringende ingryping nodig is om duisende Suid-Afrikaners van werkloosheid te red.

“In onlangse gesprekke met die regering by Nedlac, het Solidariteit en werkgewers die situasie duidelik geskets. Tog is daar nie ag geslaan op pleidooie vir laer elektrisiteitspryse om produksie by die smelters voort te sit nie,” sê Venter.

Solidariteit hoop die dringendheid wat sover ontbreek het, sal nou te voorskyn kom om verdere afleggingskennisgewings, en die ineenstorting van die bedryf, te keer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel