loading
avatar
Artikels
22 uur gelede
standbeelde-en-naamsveranderinge-bou-nie-skole-nie

Foto Krediet: OkayDeer

Standbeelde en naamsveranderinge bou nie skole nie

Deur Heléne Mocke

Terwyl Suid-Afrika se skole letterlik verbrokkel, blyk dit dat die regering se prioriteite elders lê.

Geld word bestee aan simboliese projekte wat die verlede vier – van die verandering van plekname soos Graaff-Reinet tot nóg ʼn R22 miljoen-standbeeld van Nelson Mandela in KwaZulu Natal.

Dít terwyl die basiese infrastruktuur van skole agteruitgaan.

Die meeste van ons ken teen hierdie tyd Flip Buys se siening dat opleiding die beste belegging is wat in die nuwe generasie se toekoms gemaak kan word.

Daarom die groot oorgawe en energie wat in die bou en uitbou van Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo en meer belê word.

Onlangse mediaberigte wys egter hoe skoolinfrastruktuur in Suid-Afrika verbrokkel waar gemeenskappe nie nouliks betrokke is nie. Die portefeuljekomitee van basiese onderwys se syfers is werklik ontstellend.

Altesaam is 43 677 addisionele klaskamers nodig om oorvol klasse te verlig, terwyl sowat 3 523 skole in ongeskikte geboue gehuisves word.

Om hierdie agterstande behoorlik aan te spreek, sal ʼn jaarlikse belegging van sowat R57 miljard vereis.

Teen hierdie agtergrond lyk die regering se fokus op splinternuwe simboliese projekte en sinnelose naamsveranderinge al hoe vreemder.

ʼn Standbeeld verander nie ʼn kind se lewe nie. ʼn Simboliese naamsverandering bou nie ʼn klaskamer nie. En ideologiese projekte help nie ʼn leerder wat in ʼn vervalle gebou moet leer nie.

Die werklikheid is dat Suid-Afrika se grootste tekortkominge nie simboliek is nie, maar die logiese uitvoering van pligte. Daar is ʼn duidelike gebrek aan vermoë om skole te bou, infrastruktuur te onderhou en die bereidwilligheid om ʼn omgewing te skep waarin kinders kan leer.

Die staat het sy prioriteite heeltemal verkeerd en versaak sodoende die mees behoeftige burgers van die land.

Hierdie werklikheid het daartoe gelei dat ander gemeenskappe nie meer vir die staat wag nie. Hulle bou self – maar nee, nie standbeelde nie.

Soos genoem is Solidariteit en sy instellings ʼn voorbeeld hiervan. Deur projekte, soos ʼn nuwe kampus vir nagraadse studies en die werk van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, word daar prakties in onderwys belê.

Hier word skole ondersteun, onderwysers opgelei en leer- sowel as werkgeleenthede geskep.

Die uitgangspunt is eenvoudig: omdat die staat dit nie vir ons kan of gaan doen nie, doen ons dit self.

Waar die staat geld mors op simboliese projekte wat die verlede vier, fokus gemeenskapsinstellings op die bou van strukture wat werklik waarde skep en op die toekoms geskoei is.

Hier word nie geboue vir politieke bravade opgerig nie, maar vir kinders en jong mense se toekoms. Hier word nie name verander nie, maar lewens.

Dit is ironies: terwyl die regering standbeelde oprig om die verlede te vier, bou ander instellings infrastruktuur vir die toekoms.

Uiteindelik is dit nie standbeelde wat ʼn land se nalatenskap bepaal nie, maar eerder die skole wat ons bou en die geleenthede wat ons deur opleiding vir die volgende generasie skep.

Ons hoef nie te wonder watter groep deur die volgende generasie bedank gaan word en watter groep verwens gaan word nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel