loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
afskaffing-van-jeugsorgsentrums-kan-ernstige-gevolge-inhou

Foto Krediet: OkayDeer

Afskaffing van jeugsorgsentrums kan ernstige gevolge inhou

Voorgestelde hervormings aan kinder- en jeugsorgsentrums kan Suid-Afrika op die rand van nog ’n maatskaplike ramp plaas.

Volgens die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk hou planne om jeugsorgsentrums teen 2030 uit te faseer ernstige risiko’s in vir duisende kwesbare kinders wat reeds uit gebroke en gevaarlike tuisomgewings verwyder is.

“Hierdie kinders is nie statistieke nie. Hulle is reeds slagoffers van mishandeling, verwaarlosing en trauma. Om nou die strukture wat hulle beskerm te verswak, is onverantwoordelik,” sê Bianca Smit, koördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Volgens Smit klink die voorgestelde skuif na meer pleegsorgplasing op papier goed, maar die werklikheid is veel meer ingewikkeld.

“Daar is eenvoudig nie genoeg geskikte pleegsorggesinne beskikbaar nie. Die stelsel sukkel reeds om bestaande plasings volhoubaar te bestuur,” sê sy.

Smit voeg by dat die departement van maatskaplike ontwikkeling se gesloer om kinders in pleegsorg te plaas ʼn ernstige bron van kommer is. Volgens haar is daar tans bottelnekke by plekke van veiligheid en jeugsorgsentrums, juis omdat sake nie vinnig genoeg verwerk word nie, terwyl vertragings met die finalisering van aannemings verder tot die krisis bydra.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk beklemtoon dat baie kinders in jeugsorgsentrums spesiale behoeftes het – insluitend gedragsprobleme, emosionele trauma en kognitiewe uitdagings – wat nie maklik in gewone huishoudings aangespreek kan word nie.

Sy voer ook aan dat maatskaplike dienste reeds onder geweldige druk verkeer, met ʼn ernstige tekort aan gekwalifiseerde maatskaplike werkers en hulpbronne.

“Om nou nog ʼn groot strukturele verandering af te dwing sonder die nodige kapasiteit is ʼn resep vir mislukking,” sê Smit. “Die departement het al menigmaal te vinnig opgetree, sonder dat prosesse behoorlik deurdink en deurgevoer word.”

Volgens Smit moet daar uit vorige mislukkings geleer word. Sy wys daarop dat die departement se verskeie onsuksesvolle pogings oor die afgelope paar jaar reeds as duidelike waarskuwings moes dien.

“As ons kyk na die bedrae geld wat terugbetaal moes word omdat projekte onsuksesvol uitgerol is – of glad nie geïmpliseer is nie – is dit duidelik dat die nodige lesse nog nie geleer is nie,” sê sy. “Ons het reeds gesien wat gebeur wanneer besluite oor kwesbare groepe geneem word op grond van finansiële oorwegings eerder as hul welstand. Ons kan nie bekostig om daardie fout te herhaal nie.”

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk beklemtoon dat hierdie nie ʼn gewone beleidsdebat is nie.

“Dit gaan hier oor werklike kinders, met werklike trauma en werklike behoeftes. As die verkeerde besluite nou geneem word, gaan die gevolge vir jare, selfs dekades, gevoel word.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel