Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit hof toe: Nuwe regulasies oor SEB-verkryging nóg erger
Solidariteit bevestig sy hofsaak teen die grondwetlikheid van Suid-Afrika se Wet op Openbare Verkryging wat in Mei vanjaar aangehoor word.
Hierdie saak is van kritieke belang vir elke belastingbetaler en diensverbruiker, aangesien hierdie wetgewing regstreekse gevolge het vir pryse, dienslewering en die stand van infrastruktuur in die land.
Tog het die regering besluit om nuwe regulasies oor die wetgewing uit te vaardig kort voor die hof oor die grondwetlikheid van hierdie wetgewing moet beslis.
Hierdie saak gaan op 18 en 19 Mei in die Konstitusionele Hof aangehoor word.
Volgens die regulasies wat die Nasionale Tesourie gepubliseer het moet staatsinstellings 30% van alle aankope wat hulle doen vir ondernemings in swart besit reserveer. ʼn Onderneming wat met die staat sake wil doen moet boonop kan wys dat minstens 40% van al sy aankope by diensverskaffers met grootliks swart eienaarskap gedoen is.
Anders as in die verlede is nie-voldoening aan hierdie baie hoë vlak van swart bemagtiging volgens die regulasies nou ook gronde vir outomatiese uitsluiting van alle staatskontrakte.
“Die vermetelheid om dit te doen so kort voor daar besluit word of die wet billik is, of nie, is eintlik verstommend. Hierdie regulasies sal die kostes van aankope nóg drasties verhoog aangesien dit die poel van beskikbare verskaffers aan die staat verder gaan verklein.
“Diegene wat wél aan hierdie SEB-voorskrifte voldoen gaan bykans geen perk hê op die pryse wat hulle kan vra vir hulle produkte en dienste nie. Dit is dan op die ou einde vir die rekening van die belastingbetaler,” sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit beklemtoon dat Suid-Afrikaners kennis moet neem van die skadelike gevolge wat hierdie wetgewing op die land het.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), moet mense eerstens begryp hoe voorkeurverkryging in die praktyk werk.
“Voorkeurverkryging veroorsaak dat die staat en staatsentiteite nie direk by die beste en goedkoopste verskaffers kan aankoop nie.
“Dit skep ’n stelsel waar middelmanne en sogenaamde ‘tenderpreneurs’ winste maak sonder om werklike waarde toe te voeg,” sê Du Buisson.
Du Buisson verduidelik hoe staatsinstellings veronderstel is om as ’n koste-effektiewe diensverskaffer vir die publiek en die ekonomie op te tree.
“Maar wanneer pryse kunsmatig verhoog word deur tussengangers as bykomende skakels in die ketting te voeg, word hierdie mandaat ondermyn. Die uiteinde is dat gewone Suid-Afrikaners meer betaal vir swakker dienste.”
Hy sê skattings deur die Nasionale Tesourie self wys hoe tot 40% van staatsaankope deur bedrog, opgeblase pryse en middelmanstrukture vermors word. Hierdie syfer is in lyn met vroeëre waarskuwings deur die Nasionale Tesourie se hoof aankopebeampte.
Tog word die voorkeurverkrygingvereistes deur die nuwe regulasies verhoog eerder as wat die probleme met die wetgewing aangespreek word.
Du Buisson beskou dit as een van die mees rassistiese stukke wetgewing wat sedert 1994 uitgereik is, deurdat dit wit sakelui bykans heeltemal diskwalifiseer.
Daarom moet die komende hofsaak ʼn keerpunt wees.
“Hierdie saak gaan nie net oor beleid nie. Dit gaan oor die grondwetlike beginsels van billikheid, doeltreffendheid en verantwoordbaarheid. Ons wil hê Suid-Afrikaners moet verstaan dat hierdie rassestelsel hulle daagliks raak – in hul belasting, hul dienste-verskaffing en hul lewenskwaliteit,” sluit Du Buisson af.