Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
6 uur gelede
solidariteit-tree-toe-tot-ambagslui-se-stryd-weens-gesloer-met-rooiseelsertifikate

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit tree toe tot ambagslui se stryd weens gesloer met rooiseëlsertifikate

Die Solidariteit Ambagnetwerk het met sy regspan gekonsulteer om die voortdurende vertragings wat met die uitreik van rooiseëlsertifikate ondervind word, te takel.

Die organisasie oorweeg tans alle opsies om dié onreg, wat jong ambagsmense kniehalter, te pak.

Hierdie stap volg nadat dit aan die lig gekom het dat honderde afgestudeerde ambagslui – insluitend meer as 600 van Sol-Tech – steeds vir hul rooiseëlsertifikate wag, ondanks die feit dat hulle reeds hul finale vaktoets geslaag het.

Volgens beleid van die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) behoort hierdie sertifikate binne net 21 dae uitgereik te word. Tog wag vakleerlinge wat hul opleiding voltooi het in baie gevalle maande en soms selfs jare langer as hierdie voorgeskrewe tydperk om die rooiseël-sertifikaat te ontvang.

“Dit is nie net ʼn administratiewe probleem nie. Dit hou werklike en ernstige gevolge vir jong mense en ons jong ambagslui se lewens in,” sê Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se Ambagnetwerk.

“Ambagslui wat reeds hul vaktoetse geslaag het, kan nie sonder daardie sertifikate as gekwalifiseerde werkers aangestel word nie.” Hulle bly dus in effek vakleerlinge en kan nie met ʼn rooiseëlsertifikaat in die hand vir ander poste aansoek doen nie. In die meeste gevalle is hulle ook nie op die vergoeding van ʼn gekwalifiseerde ambagsman geregtig nie, terwyl werkgewers reeds die volle vaardighede van ʼn volledig opgeleide ambagspersoon kan benut.

Hierdie onregmatige situasie word regstreeks veroorsaak deur administratiewe traagheid by QCTO. Dit is ʼn statutêre liggaam wat verantwoordelik is vir die sertifisering van ambagskwalifikasies en dit val onder die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

Hierdie vertraging beteken dat baie van hierdie jong ambagsmense steeds op vakleerlingsalarisse van sowat R8 000 tot R10 000 per maand vasgevang is, terwyl hulle reeds vir salarisse van tussen R20 000 en R30 000 per maand sou kon kwalifiseer.

Benewens die finansiële verlies, word hierdie ambagsmense se vordering en loopbaanvooruitsigte ook beperk. Sonder ʼn rooiseëlsertifikaat kan hulle nie vir ander poste aansoek doen nie, wat beteken dat sommige selfs vir maande sonder werk sit.

“Dit is eenvoudig onregverdig dat jong ambagslui wat hulself bewys het, nou finansieel benadeel word weens staatsinstellings se absolute traagheid,” sê Pretorius. “Baie van hulle verloor gemiddeld tot R15 000 per maand – geld wat hulle regmatig sou toekom.”

Solidariteit se Ambagnetwerk beklemtoon egter dat opleidingsinstellings soos Sol-Tech alles in hul vermoë gedoen het om te verseker dat die verlangde dokumentasie korrek en volledig ingedien is.

“Hierdie tipe traagheid stuur ʼn uiters negatiewe boodskap aan jong mense wat ʼn ambag as loopbaan oorweeg,” waarsku Pretorius. “In ʼn land waar daar reeds ʼn tekort aan vaardighede is, kan ons dit eenvoudig nie bekostig om gekwalifiseerde ambagsmense op hierdie manier terug te hou nie.”

Die Solidariteit Ambagnetwerk moedig enige ambagspersoon wat deur hierdie probleem geraak word, aan om by Solidariteit aan te sluit sodat hulle ook verteenwoordig kan wees sou regstappe die onvermydelike uitweg wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel