Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Malema se uitsprake plaas teiken op regslui – Solidariteit eis optrede
Die Solidariteit Regsnetwerk veroordeel die uitlatings van Julius Malema, waarin hy landdros Twanet Olivier openlik as ’n “rassis van formaat” bestempel, ten sterkste. Hy het die staatsaanklaer Joel Cesar beledig en beskuldig van wangedrag en leuens en meen ʼn saak van meineed moet teen hom geopen word.
Malema is onlangs skuldig bevind en tot vyf jaar tronkstraf opgelê nadat hy in 2018 ’n vuurwapen by ’n politieke saamtrek afgevuur het. Hy is onder meer skuldig bevind aan die onwettige besit van ’n vuurwapen en die afvuur daarvan in ’n openbare plek.
In plaas daarvan om die uitspraak van die hof te respekteer, het hy gekies om die integriteit van die regsbank openlik te ondermyn.
Dr. Llewelyn Curlewis, adviesraadslid van Solidariteit se Regsnetwerk, meen dat Malema se optrede neerkom op gepeupelgedrag en propaganda deur ʼn radikale krimineel.
Volgens Riaan Visser, hoof van Solidariteit se Regsnetwerk, leef ons in ’n land waar regslui reeds onder druk verkeer en bestempel sulke uitsprake as uiters gevaarlik.
“Daar is goeie rede waarom hierdie soort aanvalle op regslui nie toegelaat kan word nie,” sê hy.
Visser wys daarop dat Suid-Afrika die afgelope paar jaar ’n ontstellende toename in geweld teen regslui beleef het:
- Die arbeidsprokureur Chinette Gallichan is vroeër vanjaar koelbloedig buite die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) doodgeskiet.
- In September 2025 is Bouwer van Niekerk, ’n prokureur en sakereddingspraktisyn, in sy kantoor vermoor nadat aanvallers hulleself as kliënte voorgedoen het.
- Vier jaar gelede is prokureur Schalk Pienaar in Mokopane vermoor weens sy betrokkenheid by ’n korrupsiesaak.
- Die sluipmoord op likwidateur Cloete Murray en sy seun het die land verder geskud.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, stem saam met Visser en meen hierdie voorvalle beklemtoon waarom onverantwoordelike uitlatings teenoor regslui onder geen omstandighede geduld moet word nie.
“Teen hierdie agtergrond is dit onverantwoordelik en gevaarlik om regters en landdroste persoonlik aan te val. Dit plaas ’n teiken op die rug van regslui, veral dié wat by hoëprofielsake betrokke is,” voeg Van der Bijl by.
Solidariteit beklemtoon dat die onafhanklikheid en veiligheid van die regbank ’n hoeksteen van die regstaat is.
“Enige poging om dit te ondermyn, moet ferm teengestaan word,” sê Visser.
Solidariteit doen ’n dringende beroep op die Regterlike Dienskommissie (RDK) en owerhede om regslui se veiligheid te prioritiseer, en hierdie tipe opruiende gedrag in die kiem te smoor en onomwonde afkeur daarvan uit te spreek.
“Om van ’n uitspraak te verskil, gee niemand, ook nie vir Malema nie, die reg om tot skreiende belaglikhede teen ’n landdros, staatsaanklaer of enige ander regslui oor te gaan nie,” sluit Van der Bijl af.