loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
agoa-verlenging-en-trump-tariewe-tydelike-verligting-maar-groter-onsekerheid-le-voor

Foto Krediet: siwabudv

Agoa-verlenging en Trump-tariewe: Tydelike verligting, maar groter onsekerheid lê voor

Deur Nico Strydom

Die onlangse verlenging van die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa), tesame met verwikkelinge rondom die Amerikaanse president, Donald Trump, se handelstariewe, bied korttermynverligting vir Suid-Afrika se uitvoersektor, maar bring nie die sekerheid waarop gehoop is nie.

Agoa is in Februarie vanjaar amptelik tot 31 Desember 2026 verleng. Kort daarna het die Amerikaanse hooggeregshof Trump se wederkerige handelstariewe ongeldig verklaar. Trump het egter intussen van ʼn alternatiewe wet gebruik gemaak om ʼn nuwe, tydelike handelstarief van 10% op alle lande in te stel, wat later tot 15% verhoog is.

Agoa, wat Suid-Afrikaanse uitvoerders voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark bied, is al jare lank ʼn belangrike drywer van uitvoer en werkskepping – veral in sektore soos motorvervaardiging, landbou en vervaardiging.

Die vraag is dus nie meer net of Agoa voortgaan nie, maar onder watter voorwaardes.

Die diplomatieke verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA het die afgelope tyd opnuut onder druk gekom. Onlangse spanning, insluitend die berisping van die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, dui op ʼn verhouding wat toenemend onder druk verkeer.

Hierdie spanning is nie bloot simbolies nie, maar het direkte ekonomiese gevolge. Die VSA het dit reeds duidelik gemaak dat toekomstige handelsbetrekkinge nie vanselfsprekend is nie. Daar is toenemende verwagtinge dat Suid-Afrika sekere beleidskwessies sal aanspreek indien hy sy voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark wil behou.

Bozell het onlangs weer benadruk dat president Trump se administrasie vyf eise aan die Suid-Afrikaanse regering gestel het. Dit hou verband met die Onteieningswet, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), haatspraak met betrekking tot die lied “Kill the Boer”, plaasmoorde en ʼn hersiening van Suid-Afrika se buitelandse beleid.

Dit was juis Bozell se uitlatings oor die “Kill the Boer”-lied wat daartoe gelei het dat die Suid-Afrikaanse regering hom ontbied het om sy “ondiplomatieke opmerkings” te verduidelik.

Tydens BizNews se konferensie in Hermanus het Bozell gesê dat die VSA se geduld met Suid-Afrika besig is om op te raak. Hy het sakelui daaraan herinner dat president Trump se administrasie die vyf eise aan die Suid-Afrikaanse regering herhaal het.

“Ons gaan dalk nie duidelikheid oor die ‘Kill the Boer’-dreunsang, wat haatspraak is, kry nie. Ek gee nie om wat julle hof sê nie – dit is haatspraak,” het die ambassadeur gesê. “Ons het ook nog nie duidelikheid oor onteiening nie.” Bozell was ook krities oor SEB.

Hierdie kwessies raak nie net diplomatieke gesprekke nie – dit beïnvloed beleggersvertroue, handelsbesluite en uiteindelik werkskepping. Vir Suid-Afrika beteken Agoa nie net voorkeurtoegang tot sy tweede grootste handelsvennoot se mark nie; dit beteken ook stabiliteit, uitvoergeleenthede en duisende werkgeleenthede.

Indien Suid-Afrika sy Agoa-status sou verloor, of indien dit beperk word, kan uitvoere na die VSA benadeel word, plaaslike nywerhede onder druk kom en werkloosheid verder toeneem.

Dit plaas die fokus vierkantig op beleidsekerheid en die bestuur van internasionale verhoudinge. Solidariteit meen dat Suid-Afrika nie hierdie geleentheid ligtelik kan opneem nie.

Handelsvoordele, soos Agoa, is nie gewaarborg nie – dit berus op vertroue, stabiliteit en gedeelde ekonomiese beginsels.

Wanneer beleid onseker is of internasionale verhoudinge onder druk verkeer, raak dit die land se ekonomiese vooruitsigte direk.

Die werklike toets lê nou voor, met die volgende hersiening van Agoa wat later vanjaar plaasvind.

Die Suid-Afrikaanse regering staan voor ʼn keuse: om sy beleid en diplomatieke benadering te herkalibreer, of om die risiko te loop dat handelsvoordele ingeperk kan word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel