Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ramaphosa, nie Musk, leef in ontkenning oor SEB
Deur Pieter Jordaan
Die debat oor rassewette het nou ʼn nuwe fase betree.
President Cyril Ramaphosa se poging vroeër hierdie week om Elon Musk as ʼn leuenaar af te maak oor Suid-Afrika se rassebeleid – oftewel swart ekonomiese bemagtiging (SEB) – is meer as net ʼn venynige reaksie op X.
Dit is ʼn simptoom van ʼn dieper probleem: nie ontkenning uit onkunde nie, maar ontkenning as strategie.
Met ander woorde: nie dat die president nie weet nie, maar dat hy nie wíl of sál erken nie.
Hy kan nie SEB se slinkse oogmerke uitwys nie, want hy is self ʼn begunstigde daarvan.
Musk se stelling dat Starlink nie in Suid-Afrika gelisensieer word nie weens rasvereistes, en selfs sy bewering oor pogings tot omkopery, is natuurlik ongemaklik vir ʼn regering wat sy beleid as moreel verhewe wil voorhou.
Maar om sy klagtes bloot as “leuens” af te maak, is om die kern van die probleem doelbewus te vermy.
Waarom is die regering so desperaat om die werklikheid van sy eie beleid te ontken? Want Musk is nie alleen in sy kritiek nie. Internasionale beleggers is daaroor bekommerd, plaaslike entrepreneurs verwerp dit, en selfs gewone burgers wys al jare lank op dieselfde probleem en die prys wat hulle betaal.
En wat is die regering se reaksie? Skiet die boodskapper.
Die werklike probleem met SEB is nie net ideologies nie; dit is ekonomies meetbaar. En dit is juis hier waar die regering se houding die duidelikste ontbloot word.
Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se verslag oor die koste van SEB, beloop die jaarlikse nakomingskoste tussen R145 miljard en R290 miljard – tot 4% van Suid-Afrika se BBP.
Die beraamde verlies aan ekonomiese groei beloop tot 3% per jaar. Werkverliese? Tot 192 000 poste jaarliks – met ʼn kumulatiewe verlies van sowat 3,8 miljoen werkgeleenthede.
Dit is nie opinies nie. Dit is syfers.
En tog word diegene wat hierdie realiteit uitwys, gereeld as regses, randfigure of rassiste afgemaak. In sy reaksie op kritiek deur ʼn rubriekskrywer in Business Day skryf Theuns du Buisson die volgende:
“Attempting to deny that BEE comes at great economic cost would require quite some dishonesty.”
Dit is die kern van die saak: nie ʼn verskil in interpretasie nie, maar ʼn verskil in eerlikheid.
Du Buisson gaan verder en wys daarop dat die werklike koste van SEB waarskynlik groter is as wat selfs hierdie syfers aandui:
“Overall, however, the estimated loss of 3% GDP growth per annum is likely an underestimate… The true cost lies in entrenched inefficiencies and lost opportunities.”
Met ander woorde: ons sien slegs die punt van die ysberg.
Hy verwys na konkrete voorbeelde van hoe SEB-praktyke koste opjaag en korrupsie aanmoedig – van buitensporige pryse deur middelmanne tot absurde aankope deur staatsinstellings. Hierdie voorbeelde is nie uitsonderings nie; dit het, soos hy dit stel, “die norm” geword.
Dit is die werklikheid wat die regering nou probeer wegpraat.
Die grootste ironie is dat ʼn beleid wat bedoel is om mense te bemagtig, in baie gevalle die teenoorgestelde doen. In plaas daarvan om breë ekonomiese deelname te bevorder, het SEB ontwikkel tot ʼn stelsel wat hoofsaaklik ʼn klein, polities verbonde elite bevoordeel.
En dit is juis hier waar die debat ongemaklik raak: dié stelsel bevoordeel ook die politieke en ekonomiese elite – diegene wat die beleid ontwerp, bestuur en verdedig.
Gaan lees gerus ook Gideon du Plessis se Rapport-rubriek. Die opskrif lees: “Cyril verdedig iets wat hom ryk gemaak het – kan jy raai wat dit is?”
Die antwoord is natuurlik voor die hand liggend. Intussen betaal gewone Suid-Afrikaners die prys deur hoër koste, minder werkgeleenthede en stadiger groei.
Wat Ramaphosa en sy regering dalk die meeste ontstel, is dat hierdie debat nie meer tot Suid-Afrika se grense beperk is nie. Musk se uitlatings is bloot die jongste voorbeeld van hoe internasionale aandag op Suid-Afrika se beleid begin fokus.
Solidariteit se buitelandse bewusmaking en skakeling speel natuurlik ook ʼn rol in hierdie internasionale kritiek. Dieselfde amptenare wat niks van hierdie kritiek hou nie probeer dit afmaak as die verspreiding van valse volksmoordnarratiewe (“white genocide”).
Hulle probeer die kollig verskuif – weg van die debat oor rassewetgewing.
Ramaphosa wil ook nie oor die werklike gevolge van SEB praat nie. Hy sal eerder na Musk as ʼn leuenaar verwys as om die werklikheid in die oë te kyk.
Die waarheid is eenvoudig: wanneer ʼn tegnologiereus, soos Starlink, nie kan funksioneer nie, beteken dit minder belegging, minder innovasie en minder toegang tot tegnologie – veral vir landelike gemeenskappe wat dit die nodigste het.
Dit is nie ideologie nie. Dit is ekonomiese werklikheid.
So, wie is dan werklik oneerlik?
Is dit ʼn entrepreneur wat openlik verduidelik waarom hy nie in Suid-Afrika kan belê nie? Of is dit ʼn regering wat, ten spyte van oorweldigende bewyse, aanhou voorgee dat sy beleid geen skade aanrig nie?
Om kritici as leuenaars af te maak, verander nie die feite nie. Dit verander net hoe ernstig die regering opgeneem word.
En Ramaphosa het nou weer bewys hy kan nie ernstig opgeneem word nie.