loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
esidimeni-se-letsels-leef-voort-en-nog-krisisse-dreig

Foto Krediet: OkayDeer

Esidimeni se letsels leef voort en nóg krisisse dreig

Die Life Esidimeni-tragedie bly ʼn skokkende herinnering aan wat gebeur wanneer die staat sy mees kwesbare mense versaak. Nou, byna ʼn dekade later, wonder die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk hoe lank dit gaan wees voor Suid-Afrika nóg só ʼn krisis moet probeer verwerk.

“Dit is onaanvaarbaar dat ons vandag steeds moet vra of die staat enigiets uit die Esidimeni-tragedie geleer het,” sê Bianca Smit, koördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Onlangse berigte oor probleme by die Talisman-stigting dui daarop dat tot 174 geestesgesondheidspasiënte moontlik weer verskuif kan word, met kommer oor of die proses voldoende beplan en bestuur sal word.

Die Gautengse departement van gesondheid het egter intussen dié bewerings betwis en hou vol dat geen pasiënte nog verskuif is nie. Volgens die departement sal enige moontlike oordragte gefaseer, deeglik beplan en in oorleg met families en mediese personeel geskied. Die departement beskryf sommige van die kritiek as misleidend en beklemtoon dat alle prosesse in ooreenstemming met wetlike en kliniese protokolle sal plaasvind.

Ten spyte van hierdie versekering, bly daar kommer oor hoe sulke prosesse in die praktyk bestuur sal word – veral in die lig van die Life Esidimeni-tragedie in 2016.

Volgens Smit skep die huidige situasie ʼn gevaarlike potensiaal wat sterk ooreenstem met die gebeure wat tot die Esidimeni-ramp gelei het.

“Wanneer pasiënte sonder deeglike assessering, infrastruktuur en toesig verskuif word, speel die staat letterlik met mense se lewens,” waarsku sy.

Die Maatskaplikewerkersnetwerk is veral bekommerd oor bewerings dat sommige fasiliteite waarheen pasiënte moontlik verskuif kan word, reeds in die verlede by Esidimeni betrokke was.

Intussen het die Nasionale Vervolgingsgesag bevestig dat strafregtelike vervolgings uiteindelik ingestel sal word teen diegene wat betrokke was by die Esidimeni-tragedie. Hoewel families dié stap verwelkom, krap hierdie nuus ook weer ou wonde oop.

ʼn Totaal van 144 pasiënte het hul lewens verloor, en tog het dit bykans tien jaar geneem vir strafregtelike aanspreeklikheid om te begin realiseer.

“Geregtigheid wat so lank neem, is glad nie geregtigheid nie. Dit ondermyn vertroue in die hele stelsel en laat families met ʼn gevoel van verlatenheid,” sê Smit.

Volgens haar wys die jongste verwikkelinge hoe die probleem nie bloot histories is nie, maar steeds diep gewortel is in swak bestuur, onvoldoende toesig en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid in die gesondheidsorgstelsel.

“Die Esidimeni-tragedie was nie net ʼn enkele fout nie. Dit was die gevolg van sistemiese mislukkings. As daardie stelsels nie reggestel word nie, sal ons weer dieselfde uitkoms sien,” waarsku Smit.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk doen ʼn dringende beroep op owerhede om die verskuiwing van pasiënte deeglik te herevalueer, onafhanklike toesig te versterk en ten minste uit die Life Esidimeni-tragedie te leer.

“Die grootste skande sou wees as ons eers ná nóg ʼn tragedie besef dat ons nie betyds opgetree het nie,” sê Smit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel