loading
avatar
Artikels
21 uur gelede
kom-ons-kry-raswette-met-die-rug-teen-die-muur

Foto Krediet: OkayDeer

Kom ons kry raswette met die rug teen die muur

Deur Pieter Jordaan

Om die ANC se raswette te beveg is die regte ding om te doen.

Tog is daar teleurstellend min individue en organisasies wat hulself aktief tot een van die belangrikste gevegte van ons generasie verbind.

Dit kan beslis nie van Solidariteit gesê word nie. Deur by te dra tot Solidariteit se Regsfonds, versterk lede én nielede die vakbond sodat hy die voortou in hierdie stryd kan neem.

Só word die euwel van raswette sommer reguit in die oë gekyk en die stryd aangesê.

Ons betree nou ʼn tydvak waarin al meer mense die verwoestende impak van beleide soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie bevraagteken, sowel as die verwerping van meriete. Dit geld selfs vir voormalige ondersteuners daarvan.

Al meer Suid-Afrikaners sien raak hoe die kamstige bedoelings nie met die uitkomste van die beleide klop nie.

Daar word egter geen ruimte gelaat om op die louere te rus nie, aangesien groter druk nodig is juis noudat hierdie beleide wankel. Sodra een rasbeleid se bestaansreg onder skoot kom, word nuwe planne gesmee.

Dit lê voor die hand met verlede jaar se aankondiging van ʼn R100 miljard-transformasiefonds as net nóg ʼn voertuig vir kaderdiefstal.

Daarom kan dit soms frustrerend raak om te sien hoe sommige gematigde Suid-Afrikaners steeds kies om bloot toeskouers in die stryd te bly.

Daardie blywende gesindheid is, na my mening, grootliks te wyte aan suksesvolle ANC-propaganda. Dit is propaganda wat mense, in weerwil van bewyse rondom ons, laat aanhou glo daar is tóg iets positief transformerend aan die ANC se transformasie. Hulle klou steeds vas aan die idee dat historiese foute tóg deur die ANC se regstellende aksie reggestel kan word.

Mense of groepe soos dié stem dalk nie met die voertuig saam waarmee die regering woeker nie, maar wil tog ook nie deur eie toedoen die strewe na gelyke geleenthede vir almal in ons land belemmer nie.

En só word iemand, uit onkunde of uit vrees vir etikettering, slagoffers van propaganda.

Dan is die vraag: Hoe kan hierdie Suid-Afrikaners wél oortuig word om by die stryd teen rigiede raswette aan te sluit?

Die antwoord lê daarin om die teenargument só hard, duidelik en oortuigend te laat weerklink dat dit die propaganda uitdoof.

Regstellende aksie stel nie reg nie; dit lei eerder tot ʼn verlies aan vaardighede, swakker staatsinstellings, diskriminasie teen minderhede, rastelkaarte wat werknemers van hul menswaardigheid ontneem, minder belegging en ʼn swakker ekonomie.

Dit bevorder armoede eerder as om dit te beveg.

Syfers van Solidariteit se Navorsingsinstituut sit ook duidelik uiteen hoe SEB-beleid ʼn klein ANC-elite ten koste van die mees kwesbares in ons samelewing bevoordeel.

Solidariteit voer die stryd dan verder deur die regsmiddele tot sy beskikking aan te wend in sy litigasie oor sektorkodes of raskwotas in die werkplek, sowel as teen diskriminerende SEB-praktyke in eienaarskap of verkryging.

Soos selfs die buiteland begin besef hoe die mooi reënboogideale ʼn hersenskim was, tree die werklike stand van sake na vore.

Dit is dat Suid-Afrika vir te lank deur rasse-ideoloë aan die neus gelei is en nou die prys daarvoor betaal. Daar is ʼn behoefte om die fokus na opleiding as werkbare alternatief vir die verligting van armoede te verskuif.

Maar voor dit kan gebeur, moet die politieke skilde wat rasbeleid beskerm eers verdryf word. Met hierdie doel voor oë, gaan Solidariteit in 2026 – met jou hulp – op ʼn stormloop gaan!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel