Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Kwintielstelsel in die spervuur ná gebeure by Laerskool Pierneef
Solidariteit se Onderwysernetwerk neem met groot kommer kennis van gebeure by Laerskool Pierneef in Pretoria se Moot-omgewing, waar die skool genoodsaak is om ʼn skarebefondsingveldtog van stapel te stuur aangesien daar onvoldoende fondse vir die betaling van onderwysers beskikbaar is.
Die skool, wat deur die Gautengse Onderwysdepartement as ʼn kwintiel 5-skool geklassifiseer word, word regstreeks deur die kwintielstatus geraak aangesien hy volgens die nuwe subsidieverdeling vir kwintiel 5-skole ʼn kleiner subsidie ontvang.
Kwintiel 5-skole word as meer gegoede skole beskou.
Tog het meer as 200 leerders se ouers by Laerskool Pierneef, wat slegs 500 leerders het, reeds aansoek vir kwytskelding van skoolfonds gedoen, terwyl ander eenvoudig nie kan of wil betaal nie. Hierdie situasie het daartoe gelei dat die skool ’n skarefinansieringsveldtog (BackABuddy) moes begin om sy finansiële verpligtinge na te kom.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, is Laerskool Pierneef nie die enigste skool wat deur hierdie situasie geraak word nie.
“Daar is ʼn aantal skole in Gauteng waarvan die sosio-ekonomiese omstandighede van leerders en ouers drasties verander het sonder dat die kwintielstatus van die skool aangepas is om met hierdie omstandighede te belyn.
“Verouderde kwintiel-klassifikasies weerspieël nie noodwendig die werklike behoeftes van die skool en sy gemeenskap nie,” sê Botha.
Volgens Botha word subsidies afwaarts aangepas terwyl meer kinders se ouers nie die skoolfonds kan bekostig nie, wat skole onder toenemende finansiële druk plaas.
Botha meen skole word dikwels genoodsaak om skoolfondse te hef, nie net vir bedryfsuitgawes of addisionele aktiwiteite soos sport nie, maar selfs om addisionele onderwysers se vergoeding te finansier.
“Skole se werklike behoeftes word dikwels nie voldoende in ag geneem nie en dus word te min departementele poste aan hulle toegeken om gehalte-onderrig te kan verseker,” sê Botha.
Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die huidige kwintiel-klassifikasies kan veroorsaak dat skole in ʼn finansiële verknorsing beland.
“Regeringsubsidies is nie altyd genoeg om selfs die basiese werksaamhede van ’n skool vir die jaar te dek nie.
“Wanneer skole reeds finansieel onder druk verkeer en ouers nie meer die skoolfonds kan betaal nie, raak dit nie net die volhoubaarheid van die skool nie, maar ook die gehalte van onderrig wat aan leerders gebied kan word,” sê Prinsloo.
Volgens Botha is dit belangrik dat die werklike sosio-ekonomiese omstandighede van skoolgemeenskappe in ag geneem word wanneer finansiering en hulpbronne bepaal word.
“Ons wil seker maak skole kan nie net oorleef nie, maar ook floreer, sodat kinders ’n regverdige kans op gehalte-onderrig kan kry,” sluit Botha af.