Foto Krediet: Pixabay
Gekopieër
Slegs leë politieke beloftes: NGV in SA kán nie werklikheid word nie
Die viering van ’n onrealistiese toekomstige Nasionale Gesondheidsversekeringskema op reklameborde oor die land heen dra by tot die onreg teenoor die Suid-Afrikaanse belastingbetaler wat reeds miljoene vir NGV-voorbereiding moes opdok.
Tog merk Solidariteit op hoe die regering nie net die onwerkbare NGV-planne verdedig nie, maar selfs daarmee spog, soos op reklameborde langs die snelweë gesien kan word.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê indien die departement van gesondheidheid bereid was om die werklikheid rakende die NGV vierkant in die oë te kyk, sou hy die NGV-bemarking lankal beëindig het.
“Hoe regverdig die department die kostes wat aangegaan word vir reuse-reklameborde wat die komende NGV vier, terwyl hy op byna elke terrein geldelik swaar trek?
“Die regering adverteer ’n hersenskim terwyl werklose dokters in die Oos-Kaap betoog, of terwyl hospitale soos Groote Schuur in die Wes-Kaap nou slegs ’n kwart van die aantal internskappe wat hy drie jaar gelede vir opleiding beskikbaar gehad het, kan akkommodeer,” sê Du Buisson.
Volgens hom is miljarde reeds aan die voorbereiding vir die NGV bestee waarvan die meeste geld heel moontlik in die water gegooi is weens die onwerkbaarheid van die plan.
Du Buisson wys op ramings van verskeie belangegroepe wat teen die NGV gekant is, wat aandui hoe verwoestend die finansiële las van die NGV op Suid-Afrikaanse werkers sal wees.
“Waar gaan die staat die fondse vir die geraamde koste wat tussen R660 miljard en R1 300 miljard gaan beloop, vandaan kry? Dit is die jongste skattings van wat dit sal kos. Die staat ken nie die antwoord op die vraag nie en dit skeel die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, min.
“Volgens hierdie skattings sal gemiddelde persoonlike inkomstebelasting met R37 000 per jaar per moet toeneem. Dit is nie net verregaande nie. Dit is onmoontlik,” sê Du Buisson.
Hy waarsku die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) om nie die ANC-kultuur, waarvolgens daar van belastingbetalers verwag word om hulle sakke vir sente om te dop – selfs wanneer dit hulle eie belange benadeel – na te doen nie.
Solidariteit sal in 2025 voortgaan om alles in die stryd te werp om die NGV-planne te stuit, en ’n hofaansoek teen die NGV-wet is reeds in Mei 2024 ingedien.