
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit gaan nou alles in stryd werp teen lewensgevaarlike NGV
Solidariteit is oorgehaal om met ʼn volskaalse aanslag teen die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te begin en doen ʼn dringende beroep op die publiek om sy optrede teen hierdie vernietigende skema regdeur te steun.
Die NGV-wetsontwerp is nou nóg ʼn amptelike tree nader om as wetgewing goedgekeur te word nadat die ANC sy groot meerderheid in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gebruik het om die wetsontwerp onveranderd deur te druk.
Sou een laaste beroep op pres. Cyril Ramaphosa om daarvan af te sien óók op dowe ore val, is dit hof toe oor die NGV, en dáár sal Solidariteit alles in die stryd werp om dit te keer.
“Al die pleidooie is gelewer en waarskuwings gerig oor hoekom die NGV rampspoedige gevolge vir alle Suid-Afrikaners sál hê,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).
“Daar is gewys hoe die koste van die sogenaamde ‘gratis gesondheidsorg’ as bykomende belastings van Suid-Afrikaners verhaal gaan word – iets wat huishoudings sonder twyfel geldelik sal knak.
“Daar is aangetoon hoe dit gesondheidsorgwerkers en mediese personeel se vooruitsigte sodanig gaan beïnvloed dat hulle met geen ander keuse gelaat kan word as om loopbaanskuiwe of selfs emigrasie te oorweeg nie.
“En daar is gewaarsku dat ʼn gesondheidsorgstelsel in die hande van diegene wat Eskom, Transnet en die SAL so verwoes het, nie net die doodsklok vir ons ekonomie sal wees nie, maar dat dit letterlik ook menselewens gaan kos.”
Solidariteit het by elke openbare geleentheid om dit te doen kommentaar gelewer om telkens die onwerkbaarheid van die NGV uit te lig. Moeite is gedoen om die gevare van die voorgestelde NGV aan die hand van koste- en doktersverslae te illustreer.
Desondanks het eers die Nasionale Vergadering en nou ook die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp goedgekeur.
Volgens Du Buisson het die belofte van gratis gesondheidsorg ten doel om stemme vir die ANC te werf, selfs al is die belofte gegrond op ongestaafde stellings en selfs leuens.
“Dit wat die NGV belowe kán nie uitgevoer word nie, en Solidariteit hoop soveel as moontlik mense sal dit besef. Ons stem saam dat mediesefondspremies bykans onbekostigbaar duur is en dat ons gesondheidsorgstelsel gou herbedink moet word.
“Maar die antwoorde lê beslis nie in ʼn onwerkbare, onbekostigbare en onnodige NGV nie, en nog minder in een wat bestuur word deur ʼn oneerlike en onbeholpe regering,” sê Du Buisson.
Solidariteit is vasbeslote om hierdie planne om eienaarskap oor ons gesondheid te kaap in die hof te beveg. Sou pres. Ramaphosa ook sý handtekening onderaan die NGV-wet voeg, is ons regspan gereed om onmiddellik met litigasie te begin.