loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
solidariteit-hofstukke-onthul-ngv-is-ongeldig-en-mag-nie-geimplementeer-word-nie

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit-hofstukke onthul: NGV is ongeldig en mag nie geïmplementeer word nie

Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ongeldig, sê Solidariteit in sy hofstukke wat later vandag op die regering beteken gaan word.
“Die kennisgewing in die Staatskoerant stel nie die wet in werking nie. Die kennisgewing voldoen nie aan die vereistes wat die NGV-wet bepaal vir inwerkingstelling nie. Enige aksie wat uit die kennisgewing voortvloei, sal onwettig wees,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. 
Hierdie onthulling in Solidariteit se hofstukke kan die implementering van die NGV tot stilstand bring. 
Die betekening van die hofstukke volg nadat pres. Cyril Ramaphosa nié die wetgewing teen Donderdag se sperdatum wat deur Solidariteit se regspan gestel is, teruggetrek het nie.
In dié hofstukke, waarmee hierdie groot regstryd amptelik gaan begin, argumenteer Solidariteit dat pres. Cyril Ramaphosa se blote ondertekening daarvan verlede week nie hierdie wet in werking stel nie, aangesien tegniese gebreke daarin dit van sy wettigheid stroop.
Dit is omdat ’n begindatum vir die skema, soos vereis deur artikel 59 van die NGV-wet, ontbreek – iets wat tydens ontleding van die wetgewing deur Solidariteit se regspan opgemerk is.
“Hierdie ooglopende tegniese tekortkominge toon aan hoe argeloos die wet, soos dit in die Staatskoerant gepubliseer is, saamgeflans is,” sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit.
“Die oorhaastige ondertekening en die ooglopende tegniese gebreke bevestig dat dit roekelose stemwerwing is. Die korrekte promulgering van die wet het nog baie werk nodig. Die regering is nie gereed daarvoor nie. Hulle teken toe vinnig en skep die indruk onder die publiek dat die wet in werking gestel is,” sê Hermann. 
Volgens Van der Bijl sê Solidariteit verder in die hofstukke dat die NGV-wet onwerkbaar, onnodig en totaal onbekostigbaar is. 
Navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) dui daarop dat die NGV-skema ongeveer R660 miljard per jaar sal kos, of sowat R300 miljard indien die huidige begroting vir openbare gesondheidsorg daarvan afgetrek word.
Hiervolgens is dit onvermydelik om tot die slotsom te kom dat die staat beplan om ’n reeds oorbelaste bevolking met bykomende belasting te wurg deur gebruik te maak van ’n vernietigende bobelasting, ’n BTW-verhoging of ’n betaalstaatbelasting.
“Hierdie navorsing van ons kan nie betwis word nie, want die staat het versuim om ’n koste-ontleding van hulle eie te doen wat dit kan weerspreek. Die bekostigbaarheid daarvan kan dus nie bewys word nie, asook nie die wyse waarop dit in werking gestel gaan word nie.
“Die president het dus uiters onverantwoordelik en strydig met die Grondwet opgetree deur die wet te onderteken – selfs al is daar nou ander tegniese faktore wat die ondertekening tot niet kan maak,” sê Van der Bijl.
Hier is skakels na die konsepstukke wat later vandag uitgereik word:

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel