loading
Mediaverklarings
10 maande gelede
solidariteit-kap-regering-oor-intimidasie-van-onderwysers

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit kap regering oor intimidasie van onderwysers

Die Solidariteit Onderwysernetwerk gaan nie die regering se intimidasie van onderwysers oor taalbeleid en toelating duld nie.

Die reaksie volg ná uitsprake van die adjunkminister van basiese onderwys, dr. Reginah Mhaule, waarin sy aanvoer dat Afrikaanse onderwysers ook in Engels móét klasgee wanneer Engelse leerders by hul skool skoolgaan.

Mhaule het dit gesê na aanleiding van die gesprekvoering rondom die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela), wat tans aan die gang is. Hierdie wette beoog om, onder meer, besluitneming oor skole se taal- en toelatingsbeleid van beheerliggame na regeringsdepartemente oor te dra.

Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se onderwysernetwerk, is die ware doel van hierdie uitlatings om vyandigheid teenoor Afrikaans in die samelewing te kweek, en om Afrikaans as onderrigtaal uit die onderwysstelsel te verwyder.

Botha glo die regering maak van Afrikaans ʼn sondebok om sy eie mislukkings in die onderwys toe te smeer én om potensiële kiesers deur die kaping van skole te probeer werf.

“Die adjunkminister se uitsprake is uiters onverantwoordelik. Sy skep die verwagting by leerders dat hulle net by Afrikaanse skole kan opdaag en dan hul onderrig in Engels kan ontvang.

“Dit is ʼn blatante ondermyning van moedertaalonderrig en van die reg wat skoolbeheerliggame het om ʼn enkelmediumtaalbeleid vir skole te aanvaar en te handhaaf,” sê Botha.

Botha glo die adjunkminister poog om onderwysers in Afrikaanse skole vanuit ʼn magsposisie met die uitsprake te intimideer.

“Om aan te dring op klasgee in Engels terwyl die skool ʼn Afrikaanse skool is, is onredelik en aanduidend van ʼn regering wat onderwysers wil boelie om sy ideologieë te verwesenlik. Die adjunkminister is doelbewus besig om die onderwyslandskap téén Afrikaans op te sweep.

“Mhaule plaas Afrikaanse onderwysers onnodig in die spervuur. Sy kan haar veel eerder daarop toespits om onderwysers van meer hulpbronne en groter kapasiteit te voorsien,” voer Botha aan.

Volgens Solidariteit is die onderwysdepartement in der waarheid die een wat taal wil gebruik om mense uit te sluit. Mhaule se uitsprake dat die regering wél moedertaalonderrig na waarde skat, is volgens Botha net lippediens.

“Die regering se visier is veel eerder daarop ingestel om Afrikaans as onderrigtaal by openbare skole uit te wis,” sê hy.

Johnell van Vollenhoven, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die adjunkminister was wél in die kol met haar waarneming dat daar groepe is wat skole wil beskerm.

“Die waarheid is dat openbare skole aan skoolgemeenskappe behoort. Dit is elke gemeenskap se reg, en in hierdie geval selfs ʼn plig, om hulle skool teen ʼn magsbehepte regering te verdedig.

“Die regering bou nie skole nie en hulle gee nie aandag aan moedertaalonderrig nie. Pleks van om na gehalte-onderrig te strewe, probeer hulle skole kaap en word verdeeldheid deur middel van blaam gesaai om so in die beste belang van niemand anders nie as die ANC op te tree,” sluit Van Vollenhoven af.

Solidariteit sal moedertaalonderrig, sowel as Afrikaanse skole en onderwysers teen hierdie aanslag beskerm en sal nie skroom om die Bela-wetgewing in die hof te beveg nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel