loading
Artikels
13 uur gelede
solidariteit-gee-73-kwesbare-jonges-vlerke-met-kinderhuisprojek

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit gee 73 kwesbare jonges vlerke met kinderhuisprojek

ʼn Groep jong mense van vier Pretoriase kinderhuise gaan vandeesweek danksy Solidariteit noodsaaklike blootstelling kry aan die wêreld van studie en werk wat hulle binnekort moet betree.

Solidariteit bied hierdie besondere projek aan om die kwesbare jong mense in ons samelewing ʼn kans op ʼn beter toekoms te gee.

Deur die Kinderhuis-bemagtigingsprojek stel Solidariteit se Skoliere-aanbod, in samewerking met Solidariteit se Studente-aanbod, altesaam 73 graad 11- en 12-leerders van vier kinderhuise in die hoofstad in staat om hul toekoms te beplan.

Tydens hierdie driedaagse projek word leerders blootgestel aan vaardigheidsontwikkeling, netwerkgeleenthede en ontvang hulle noodsaaklike loopbaanadvies.

Vanaf 30 Junie tot 2 Julie bied Solidariteit hierdie verrykingsgeleentheid aan vir kinders van die Jakaranda-, Bramley-, President Kruger- en Paul Kruger-kinderhuise.

Volgens Felicia Richardson, spesialis van Solidariteit se Skoliere-aanbod, is die projek nie net daarop gemik om jong mense aan praktiese loopbaangeleenthede bloot te stel nie, maar ook om hulle toe te rus met die selfvertroue en kennis om as 18-jarige – wanneer ondersteuning van die kinderhuis gewoonlik eindig – hul eie weg te baan.

“Jy is nog ʼn kind, maar word op 18 in die wêreld ingestoot – dikwels met niks agter jou naam nie. Ons projek poog om daardie oorgang van kinderhuis na onafhanklikheid sinvol te ondersteun,” sê Richardson.

Buiten die loopbaanvoorligting gaan die deelnemende leerders ook inligting ontvang oor studierigtings en vakleerprogramme en sien hoe opleidingsinstellings soos Akademia en Sol-Tech jong mense oplei.

Die leerders kry ook die geleentheid om met mentors en verskaffers van internskapprogramme in aanraking te kom, en daarmee ook toegang te kry tot ʼn netwerk wat dikwels buite bereik vir die meeste kinderhuiskinders is.

ʼn Hoogtepunt van die projek is die insette van Albert van Wyk van Maak my ʼn miljoenêr, wat aan al 73 leerders gratis entrepreneurskapsopleiding ter waarde van R116 800 aanbied.

“Ek wil hê hulle moet weet dat jy nie hoef te wag vir iemand om jou te red nie – jy kan self begin,” sê Van Wyk.

Ook die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het betrokke geraak en gratis toegang tot die Wolkskool-platform aan al die leerders geskenk tot einde November 2025 – ʼn hulpmiddel wat hul akademiese sukses verder ondersteun.

Hierdie inisiatief is deel van Solidariteit se breër visie om nie net te help nie, maar om werklik te bemagtig.

“Ons wil hê hierdie kinders moet nie net oorleef nie – hulle moet floreer,” sê Richardson.

Solidariteit doen nou ʼn beroep op die publiek om betrokke te raak deur ʼn lid te word, ʼn leerder te borg, of ʼn mentor te wees om lewens op ʼn betekenisvolle manier te help verander.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel