loading
avatar
Artikels
21 uur gelede
die-solidariteit-doktersnetwerk-versterk-bande-in-mediese-bedryf-met-netwerkgeleentheid

Foto Krediet: Solidariteit

Die Solidariteit Doktersnetwerk versterk bande in mediese bedryf

Deur Kyla-Ann du Toit

Algemene gesondheidspraktisyns het op 5 Junie 2026 by die Solidariteit Doktersnetwerk se eerste netwerkgeleentheid byeengekom. Die geleentheid het gefokus op voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s), die uitdagings wat dit vir dokters inhou, asook die belangrikheid van beroepsondersteuning, mentorskap en professionele samewerking.

Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke, het tydens die geleentheid gesels oor die noodsaaklikheid van beroepsnetwerke en die rol wat die Solidariteit Doktersnetwerk vul as ʼn beroepstuiste vir gesondheidspraktisyns.

Volgens Marx skep hierdie beroepsnetwerke ruimte waar professionele persone nie net die nodige ondersteuning ontvang nie, maar ook saam kan dink, kennis kan deel en oplossings vir uitdagings in hul beroepe kan vind.

Volgens Noelene Oeschger, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Doktersnetwerk, bied geleenthede soos dié aan gesondheidspraktisyns die geleentheid om nie net oor die uitdagings in die bedryf te gesels nie, maar ook om professionele verhoudings te bou en mekaar te ondersteun.

Dr. Angelique Coetzee, die gasspreker by die geleentheid, het ʼn insiggewende oorsig gegee van die huidige werklikheid rondom VMV’s en die impak daarvan op algemene gesondheidspraktisyns. Sy het verduidelik wat VMV’s in die praktyk beteken, die wetlike raamwerk rondom die stelsel bespreek en algemene wanopvattings uit die weg geruim.

Coetzee het ook gefokus op die dilemma waarmee algemene gesondheidspraktisyns dikwels gekonfronteer word, waar konflik tussen verskillende rolspelers ontstaan en hoe dokters hul praktyke binne hierdie uitdagende omgewing kan beskerm.

Tydens die gesprekke wat gevolg het, het bywoners hul eie ervarings van VMV’s en die uitdagings wat dit vir hul praktyke skep, gedeel. Praktiese voorbeelde uit die werkslewe is bespreek en deelnemers kon idees uitruil oor moontlike oplossings en beste praktyke. Die ontbyt het terselfdertyd ʼn waardevolle geleentheid geskep vir netwerkvorming.

Oeschger meen dat sulke geleenthede ʼn belangrike rol speel in die versterking van die mediese beroep.

“Dit is belangrik vir ʼn gemeenskap van gesondheidspraktisyns om by mekaar te kan kom om relevante kwessies aan te spreek en saam werkbare oplossings te vind,” sê sy.

“Die doel van die geleentheid was dus om ʼn onderwerp te bespreek waarmee algemene praktisyns daagliks te doen kry. In hierdie geval was dit VMV’s. Deelnemers het praktiese wenke ontvang oor hoe om in hul pasiënte se beste belang op te tree, maar terselfdertyd ook hulself as algemene gesondheidspraktisyns te beskerm.”

Die geleentheid het weereens die waarde van ʼn sterk beroepsgemeenskap beklemtoon. Danksy die Solidariteit Doktersnetwerk kry gesondheidspraktisyns toegang tot professionele ondersteuning, verteenwoordiging, netwerkgeleenthede en ʼn platform waar hulle saam kan werk aan die bevordering van mediese beroepe.

Klik hier om vandag nog by dié beroepsnetwerk betrokke te raak en saam te bou aan ʼn vry, veilige en voorspoedige beroep waarby almal kan baat!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel