Fotokrediet: Akademia
Gekopieër
Solidariteit se ‘Boustene van Bemarking’-geleentheid brei uit na die Paarl
Deur Kyla-Ann du Toit
ʼn Sterk bemarker is nie noodwendig iemand wat alles alleen kan doen nie, maar iemand wat weet wanneer om hulp te vra en met wie om hande te vat.
Dít was een van die kernboodskappe van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk se “Boustene van Bemarking”-geleentheid wat op 10 September in samewerking met Akademia op dié instelling se Paarl-kampus aangebied is. Dit was die eerste keer dat dié geleentheid in die Paarl aangebied is nadat skoolbemarkers vroeër vanjaar ook in Pretoria byeengekom het.
Vanaf die eerste koppie koffie wat almal geniet het, kon ʼn mens reeds die energie aanvoel onder die skoolbemarkers uit die Paarl-omgewing wat hier byeengekom het om nuwe kennis op te doen, idees uit te ruil en hul netwerke te versterk.
Die krag van ʼn sterk netwerk
Die Paarl-byeenkoms het ʼn geleentheid aan bemarkers van verskillende skole gebied om ʼn dag lank uit hul eie omgewing te tree, nuwe idees te kry en, nog belangriker, met ander mense te gesels wat daagliks dieselfde unieke uitdagings van skoolbemarking moet aanpak.
Tydens die opening en verwelkoming het Bianca Smit, koördineerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, die belangrikheid van ʼn sterk netwerk beklemtoon.
“Ons mag dalk by verskillende skole werk, verskillende uitdagings ervaar en verskillende gemeenskappe dien, en soms ding ons om dieselfde mark mee, maar vandag is ons hier om net vir ʼn oomblik stil te staan en mekaar eerder as verbintenisse in ʼn netwerk te sien,” sê sy.
Volgens Smit is ʼn sterk bemarker nie noodwendig iemand wat alles op sy of haar eie kan doen nie, maar iemand wat weet wanneer om hulp te vra en watter mense om hom of haar benodig word. En juis daarom was daar deur die loop van die dag net soveel nadruk op gesprekke en die deel van kennis as op bemarkingstrategie.
Bou eers ʼn sterk fondament
Dr. Lizán Maree, bemarkingsbestuurder by Akademia, het as een van die sprekers by die geleentheid opgetree, en in haar aanbieding het sy die gehoor weer herinner aan wat die fondament van goeie strategiese skoolbemarking is.
Sy het onder meer gefokus op ʼn skool se identiteit, die gemeenskap wat dit bedien, die gebruik van data en hoe belangrik dit is om vooruit te dink oor veranderende behoeftes. Haar boodskap was dat skole nie noodwendig nóg meer “boustene” by die fondament hoef te voeg nie, maar eerder moet sorg dat die bestaande boustene sterk bymekaar aansluit.
Daarna het Smit ook praktiese insigte oor borgskappe met die gehoor gedeel. Dié insigte is gebaseer op kennis wat Carel Bosman tydens ʼn aanbieding by ʼn soortgelyke geleentheid vroeër vanjaar in Pretoria met deelnemers gedeel het.
Vertel jou skool se storie
Nog ʼn spreker, Leani Jansen van Vuuren, kreatiewe direkteur en bemarkingskonsultant van Vuur en Vlam, het op haar beurt gewys hoe skole hul bemarkingstrategie prakties kan uitleef.
Sy het onder meer gesels oor sosiale media, ʼn skool se webwerf en handelsmerk, asook die slim aanwending van kunsmatige intelligensie.
Sy het veral die belangrikheid van egte, menslike kommunikasie beklemtoon. Volgens haar moet skole nie probeer om té formeel te klink nie, maar moet hulle eerder inhoud skep wat hul mense, kultuur en stories op ʼn natuurlike manier weerspieël.
Bemagtig vir ʼn sterker toekoms
Die dag is met gelukkige trekkings, informele gesprekke en die verdere uitruil van idees afgesluit.
“Dit was ʼn voorreg om soveel skole van hierdie gemeenskap by die geleentheid te kon hê en om waardetoevoegende gesprekke te kon voer waarin ons by mekaar kon leer,” sê Maree.
Vir Smit is juis dít die rede waarom die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk geleenthede soos dié aanbied.
“Dit is vir ons van deurslaggewende belang dat ons skole bemagtig om sterk en volhoubaar te kan funksioneer in Suid-Afrika, en dit begin by die bemarker,” het Smit gesê.
Die Paarl-geleentheid het weereens gewys hoeveel waarde daarin lê wanneer mense wat dieselfde uitdagings aanpak, om een tafel kan sit, kennis kan deel en saam nuwe idees kan bou.
Hou die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk-groep dop om nie die volgende “Boustene van Bemarking”-geleentheid mis te loop nie.