loading
Mediaverklarings
1 maand gelede
solidariteit-laat-ngv-kernpilaar-in-hof-kantel

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit laat NGV-kernpilaar in hof kantel

Solidariteit het ’n groot deurbraak behaal in sy stryd teen die Nasionale Gesondheidsversekering  (NGV) toe ’n kernpilaar waarop die staat se sentralisering van gesondheidsorg steun, in die hooggeregshof as ongrondwetlik verklaar is.
Volgens hierdie uitspraak is artikels 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet, waarvolgens die regering die mag sou hê om te bepaal waar mediese praktisyns mag praktiseer, in hul geheel ongeldig.
As gevolg van hierdie spesifieke saak wat deur Solidariteit en ander applikante aanhangig gemaak is, word ’n streep deur die omstrede behoeftesertifikate getrek. Die Department van Gesondheid moet gevolglik ook Solidariteit en die ander partye se koste dra.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê jare se harde werk en volgehoue steun van die algemene publiek asook rolspelers in die mediese bedryf om die wetgewing teen te staan, is met dié uitspraak geregverdig.
“Hierdie uitspraak is ’n groot slag vir die hele NGV-idee aangesien die beginsel van sentrale bestuur ’n kernpilaar van die NGV-wet self is. Die uitspraak oor die behoeftesertifikaat se groter gevolge is dat dele van die NGV-wet heel waarskynlik ook nou in beginsel onwettig is.
“Die NGV, in sy huidige formaat, kan nie meer geïmplementeer word nie aangesien die wese van die NGV sentrale beplanning is – en dit is nou ongrondwetlik bevind,” sê Hermann.
Volgens Hermann bly die hofstryd teen die NGV-wet steeds ten volle in Solidariteit se visier as wetgewing wat meer spesifiek met die sentralisering van fondse vir gesondheidsorg te make het.
Die hofstukke daaroor is op 24 Mei aan die regering beteken nadat die NGV-wet deur pres. Ramaphosa onderteken is.
“Solidariteit gaan dus voort met sy litigasie teen die groter NGV en is nou in ʼn baie sterk posisie om ʼn oorwinning in die hof te behaal,” sê Hermann.

•    Klik hier vir ‘n skakel na Solidariteit se mediakonferensie hieroor.
•    Lees ook die volledige uitspraak hier.
•    Kyk oor die video van dr. Dirk Hermann.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel