loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
solidariteit-maan-ramaphosa-onderteken-ngv-en-hofstukke-volg

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit maan Ramaphosa: Onderteken NGV en hofstukke volg

Solidariteit het op die vooraand van president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die vernietigende Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidversekering (NGV) aan hom geskryf dat hy binne ʼn uur nadat die NGV-wet onderteken is met ʼn regsproses teen dié wetsontwerp sal begin.

Dit volg ná die presidensie se aankondiging van Ramaphosa se ondertekening van dié wetsontwerp môremiddag (15 Mei) by ʼn amptelike seremonie wat by die Uniegebou in Pretoria gaan plaasvind.

Solidariteit sê in hierdie aanmaning dat hy die Wet op elke vlak moontlik gaan beveg en hy het president Ramaphosa verder gewaarsku dat die hof sal vra om ʼn kostebevel in die persoonlike hoedanighede van die president asook die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, te maak.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, kies die regering met die aanvaarding van dié wetsontwerp om gesondheidsorg in die land op sy knieë te dwing.

“Indien die president die NGV-wetsontwerp onderteken, wetende dat dit wesenlike gebreke bevat, staan hy beslis medeaanspreeklik vir die gevolge daarvan. Hierdie stuk wetgewing gaan tot nadeel van alle Suid-Afrikaners wees.

“Die NGV-wetsontwerp is populisties, irrasioneel en onbekostigbaar. Om die hele land se gesondheid ter wille van stemme in gevaar te stel, is geweldig roekeloos,” sê Hermann.

In die hofstukke sal Solidariteit duidelik uiteensit hoe die NGV onbekostigbaar is en nie naastenby gratis soos die regering graag verkondig nie. Die versuim van die regering om ʼn behoorlike kosteanalise te doen sal ook uitgewys word.

“Solidariteit veg nie téén die NGV nie, maar vír gesondheidsorg. Om die NGV te stop is goed vir openbare én privaat gesondheidsorg. Hoe meer privaat dienste gelewer word, hoe meer vermoë word juis vir die staat geskep,” sê Hermann.

“Suid-Afrika beskik boonop reeds oor  ʼn stelsel wat toegang tot gesondheidsorg verseker, maar ongelukkig het die stelsel siek geword.”

Solidariteit sê in die aanmaning aan die president dat die hele wetsontwerp en die prosedures wat gevolg is ongrondwetlik was en dat dit geensins in sy huidige formaat tot wet verklaar kan word nie.

Daar word geëis dat president Ramaphosa sy magte gebruik om die wetgewende proses oor die NGV dadelik te staak. Lees Solidariteit se aanmaning hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel