
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit-oorwinning: SAPD begaan weer onreg teen bekwame kandidaat
Solidariteit het nóg ʼn betekenisvolle oorwinning in die stryd teen onbillike bevorderingspraktyke in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) behaal. Dit volg nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) op 1 Julie 2025 beslis het dat lt.kol. Jacobus Barnard ten onregte nie vir ʼn bevorderingspos gekortlys is nie en dat die aanstelling van ʼn minder geskikte kandidaat ongeldig was.
Barnard, ʼn ervare SAPD-lid met ʼn BTech in Polisiepraktyk en meer as 37 jaar diens, het in 2023 aansoek gedoen vir die pos van bevelvoerder: sigbare polisiëring in Port Shepstone (pos 864, met die rang van kolonel, salarisvlak 12). Hy is egter nie vir die pos oorweeg nie, omdat die SAPD beweer het dat hy nie oor voldoende ervaring in sigbare polisiëring beskik het nie – ʼn bewering wat deur die kommissaris as onbillik afgemaak is.
Volgens Renate Pieterse, regsverteenwoordiger van Solidariteit in die saak, bevestig hierdie uitspraak die belangrikheid van objektiewe meriete en ervaring in bevorderingsprosesse.
“Ons lid het aan al die vereistes voldoen en sy uitsluiting uit die proses was nie net onregverdig nie, maar ook irrasioneel. Hierdie soort optrede benadeel nie net individue nie, maar ondermyn ook die integriteit van die hele diens en het ʼn uiters negatiewe uitwerking op dienslewering aan die gemeenskap,” sê Pieterse.
Tydens die arbitrasie het dit duidelik geword dat Barnard nie net oor die nodige rang, opleiding en ondervinding beskik het nie, maar ook jare se aktiewe diens in Vispol-omgewings en taktiese reaksiespanne (TRT) agter sy naam het. Die kandidaat wat wel aangestel is, kolonel T.P. Danca, het oor minder ondervinding beskik en was volgens die kommissaris duidelik nie ʼn beter keuse nie. Tydens die verhoor het die voorsitter van die bevorderingspaneel erken dat Danca se kwalifikasie nie van toepassing in die Vispol-omgewing is nie – tog is sy nie net vir die onderhoud gekortlys nie, maar ook in dié belangrike pos aangestel.
In sy uitspraak het kommissaris Jonathan Kirby bevind dat:
- • Barnard aan al die minimum en meeste van die voorkeurkriteria voldoen het;
- • sy uitsluiting van die kortlys nie geregverdig was nie;
- • die besluit om Danca aan te stel irrasioneel en onbillik was; en
- • die aanstelling dus nietig verklaar word.
Die KVBA het gelas dat die SAPD die pos heropen, en dat Barnard binne 60 dae op die kortlys geplaas en aan ʼn onderhoudproses onderwerp moet word vir die pos waarvoor hy oorspronklik aansoek gedoen het.
Hierdie uitspraak beklemtoon weereens die belangrikheid van meriete en regverdigheid in bevorderings in die openbare sektor. Dit onderstreep Solidariteit se standpunt dat ras- of burokratiese vooroordeel nie gebruik mag word om bekwame kandidate te diskrediteer nie.
Solidariteit is trots daarop dat geregtigheid in hierdie saak geseëvier het en sal voortgaan om onbillike arbeidspraktyke in die SAPD en die breër openbare sektor aan te spreek.
“Ons sal nie stilbly waar goeie mense uitgestoot word nie. Hierdie oorwinning is ʼn oorwinning vir elke polisielid wat dag na dag getrou hul diens verrig en vir die publiek wat geregtig is op die beste diens wat die SAPD kan en móét lewer” sluit Pieterse af.
Sluit vandag nog by Solidariteit aan om werkbeskerming in jou beroep te geniet – klik hier!