Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se NGV-antwoord: Partye steun petisie by parlement
Die Nasionale Vergadering sal binnekort ’n verbeterde en werkbare wetsontwerp as alternatief vir die onbekostigbare Wet op Nasionale Gesondheidsversekering kan bespreek.
Dit is danksy konsepwetgewing van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wat vandag in Kaapstad saam met ’n parlementêre petisie ingedien is. Die wetsontwerp is ook aan partye verbonde aan die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) oorhandig.
Verteenwoordigers van die Vryheidsfront Plus en die Demokratiese Alliansie het aangedui dat hulle die petisie volkome ondersteun.
Solidariteit sê dié wetsontwerp sal, indien dit ’n wet word, daartoe lei dat mediese fondse vir alle werkende Suid-Afrikaners gehalte- mediese sorg kan koop.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die SNI, sê Suid-Afrika benodig inderdaad ’n oplossing vir sy huidige gesondheidsorgprobleme aangesien die openbare stelsel onder druk van miljoene pasiënte ineenstort en die private stelsel vir die meeste onbekostigbaar is.
“Dit is duidelik dat die NGV-wet, soos hy verlede jaar deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is, nie die antwoord daarop is of kán wees nie. Ons wetsontwerp stel gesondheidsbefondsing voor wat eis dat elke mens wat ’n werk het, aan ’n mediese fonds móét behoort sodat die risiko deur veel meer lede gedra kan word.
“Die mees basiese mediese fonds sal ongeveer R1 000 per maand beloop. Maar indien die mediesefonds-belastingkrediet en ’n werkgewersbydrae daarvan afgetrek word, kyk ons na ’n intreeplan teen nagenoeg R300 per maand vir die individu se eie sak. Dit is heeltemal haalbaar,” sê Du Buisson.
Solidariteit se gesondheidsbefonding-wetsontwerp sal mediese fondse voorts toelaat om op sekere mediesefondsplanne van voorgeskrewe minimum voordele af te sien. Die voorgeskrewe minimum voordele kan dan met meer toepaslike dekking vir die betrokke fonds se lede of teikenmark vervang word, om meer kostedoeltreffende pakette te verseker. So ’n oplossing word tans onmoontlik gemaak deur die Raad op Mediese Skemas se onbuigsame oorregulering van hierdie mark.
Volgens Du Buisson sal dit, in teenstelling met die NGV, nie deur verhoogde belasting befonds word nie, maar deur kleiner porsies werkgewer- en werknemerbydrae, tesame met die mediesefonds-belastingkrediet wat ook reeds bestaan.
“Mense wat werkloos is of mense wat regtig nie kán bydra nie, sal steeds van openbare sorg gebruik kan maak. Dit gaan egter nie van die staat afhang of gesondheidsorg beskikbaar is of nie.
“Nogtans behoort die openbare stelsel veel beter gesondheidsorg te kan voorsien indien dit vir minder mense verantwoordelik moet wees. Dit sal gebeur indien ’n bykomende 20 of 30 miljoen mense wél tot laekoste mediesefondsdekking, soos in ons wetsontwerp aangedui, toegelaat word,” sê Du Buisson.
Die SNI het voorheen uitgewys hoe die NGV-skema jaarliks minstens R660 miljard gaan kos, en ander groepe glo dit kan nader aan R1 300 miljard wees.
“Dit is natuurlik heeltemal onmoontlik vir ’n middelinkomsteland soos Suid-Afrika om ’n derde of die helfte van ons nasionale begroting aan gesondheidsorg te spandeer. Die tesourie en diegene in die regering met groter finansiële geletterdheid besef dit ook,” sê Du Buisson.
“Gesondheidsorg is heeltemal te belangrik en persoonlik om dit bloot aan die staat oor te laat. Óns wetsontwerp is wél werkbaar en bied ’n oplossing vir alle inkomstegroepe. Pasiënte kan steeds hul eie dokters kies, en mediese praktisyns word nie gedwing om volgens die staat se voorskrifte en kostestrukture op te tree nie.”
Solidariteit spreek die hoop uit dat RNE-partye hierdie geleentheid sal aangryp om aan so ’n werkbare alternatief lewe te gee, en om sodoende ’n dreigende nasionale gesondheidsramp te voorkom.