Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit se skikking oor rassewette wéér sleutel in KVBA-uitspraak oor SAPD-lid
Solidariteit se skikking met die regering in 2023 oor rassewette was weereens ʼn belangrike oorweging in ʼn uitspraak waarmee die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) die benadeling van ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op grond van sy velkleur ongeldig verklaar het.
Hierdie polisielid, kapt. Hennie Nel, se aansoek om bevordering is geweier aangesien die SAPD aangevoer het gelyke indiensname en verteenwoordiging in die werkplek sou nie met die aanstelling van ʼn wit man gedien word nie.
Die kommissaris van die KVBA het bevind daar is onregverdig teen kapt. Nel opgetree toe hy ná meer as 30 jaar se diens in die SAPD nie vir bevordering tot luitenant-kolonel oorweeg is nie.
Dit ondanks die feit dat hy tydens evaluering as die voorste kandidaat geïdentifiseer en deur provinsiale beamptes vir die pos aanbeveel is. SAPD-amptenare op nasionale vlak het egter die kortlys aangepas met die verskoning dat teikens vir regstellende aksie gedurende die aanstellingsproses voorkeur moes geniet.
Dié verweer was volgens die KVBA nie voldoende nie – óók in die lig van Solidariteit se 2023-skikkingsooreenkoms met die regering oor ras in die werkplek.
Dokumentasie wat aan die KVBA voorgelê is, het gewys hoe die aanstellingskomitee op grond van vooropgestelde idees oor rasseteikens besluit het om kapt. Nel oor te slaan, selfs al was hy ʼn geskikte kandidaat vir die pos.
Solidariteit het in hul betoog verwys na die 2023-skikkingsooreenkoms waarin bepaal word dat geen absolute plafon op grond van ras in aanstellingspraktyke gebruik mag word nie. Die beginsel maak voorsiening vir billikheid wat verhoed dat mense op grond van hul ras benadeel word.
In kapt. Nel se saak is geen geldige rede verskaf oor waarom ʼn ander kandidaat bo hom verkies is nie. Die SAPD as respondent het nie daarin geslaag om te bewys hoe die besluit van die nasionale moderasiekomitee rasioneel en konsekwent was nie.
Theunis van Staden, ʼn arbeidsregverteenwoordiger by Solidariteit, het die uitspraak verwelkom en beklemtoon hoe dit as nóg ʼn deurbraak beskou kan word vir werknemers wat weens onrealistiese en onregverdige rasseteikens benadeel word.
“Hierdie oorwinning bevestig die waarde van hierdie skikkingsooreenkoms en stuur ʼn sterk boodskap aan werkgewers dat diskriminerende praktyke onder die dekmantel van regstellende aksie of sogenaamde ‘gelykheid’ nie aanvaarbaar is nie.”
“Ons hoop hierdie beginsels sal nou as die reël eerder as die uitsondering toegepas word,” sê Van Staden.
In die KVBA-uitspraak word kapsie gemaak teen die onbuigsame manier waarop die kortlys van kandidate op grond van ras saamgestel is, en dit word beskryf as ʼn absolute plafon vir lede van nie-aangewese groepe wat met kandidate in die gelyke-indiensnemingsgroep moet meeding.
Dus is geen genuanseerde benadering in ooreenstemming met die skikking gevolg nie. Volgens die KVBA is dit dus teenstrydig met regstellendeaksiewetgewing en ʼn vergryp teen die aansoeker se reg tot waardigheid en gelykheid.
Hierdie oorwinning volg op ander soortgelyke gevalle vanjaar waartydens rassereëls onbillik deur die SAPD toegepas is.
In Oktober vanjaar is kol. Willie Joubert ook van ʼn kortlys vir ʼn werkaansoek by die SAPD verwyder voordat die KVBA dit danksy Solidariteit se toetrede as ʼn diskriminerende praktyk bestempel het. Lees hier meer oor kol. Joubert se saak.
In ʼn ander uitspraak in Mei vanjaar het die arbeidshof beslis dat ʼn Solidariteit-lid en werknemer van Eskom ook op ʼn onregverdige wyse weens sy velkleur oor die hoof gesien is vir ʼn pos – nóg ʼn uitspraak waarin die skikkingsooreenkoms oor rigiede rassereëls uitgewys is. Lees hier meer oor die saak teen Eskom.