loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
solidariteit-verwelkom-groeiende-verwerping-van-ngv

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit verwelkom groeiende verwerping van NGV 

Al meer invloedryke groepe maak openlik teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) kapsie, en Solidariteit spreek die hoop uit dat nog meer individue en organisasies aktief by die stryd daarteen betrokke sal raak.
Die nuutste organisasie wat ook voorneme aangekondig het om regstappe teen die NGV te gebruik, is die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) wat dokters verteenwoordig. 
Solidariteit neem lank reeds die voortou in die hierdie stryd veral met die oog op die opkomende regstryd wat begin sodra die wetswysiging deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken word.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê dat enige bykomende druk, ook deur middel van litigasie, verwelkom word.
“Dit is bemoedigend dat bykans alle ander organisasies regoor die politieke spektrum nou Solidariteit se navorsing beaam oor die rampspoedige gevolge wat NGV sal inhou. Dit raak al duideliker dat niemand buiten die ANC en sy napraters die NGV ondersteun, of dink dat dit uitvoerbaar is nie,” sê Du Buisson.
Solidariteit glo ook dit is van kardinale belang dat mense vanuit die mediese beroepe hul saak duidelik sal stel om reguit te sê hoe hulle die NGV sien uitspeel.
“Ons navorsing wys al vir die afgelope paar jare hoe die NGV dokters landuit sal dryf. Elke jaar wat ons die studie herhaal is dokters nóg meer negatief oor die NGV as voorheen. Dit verbaas ons daarom glad nie dat die SAMV namens hul lede regsaksie sal neem nie.”
Solidariteit neem ook kennis van ander organisasies, wat groot ondernemings verteenwoordig, wat hul teenkanting teen die NGV openbaar maak.
“Daar is niemand meer wat glo dat die NGV hoegenaamd ʼn positiewe uitkomste kan lewer nie. Die land kan dit nie finansieel bekostig nie, en so ook nie die mense van die land nie. Wie kan bekostig om nog meer belasting te betaal? Dit is daarom belangrik om nie net in die openbaar teen die NGV standpunt in te neem nie, maar om werklike stappe te neem, soos om litigasie in te stel,” sluit Du Buisson af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel