
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit waarsku: Aftreegeld buite die kwessie vir begrotingstekort
Solidariteit is sterk gekant teen voorstelle om bydraes tot die staatsdienspensioenfonds terug te hou om sodoende die regering se begrotingstekort aan te vul. Lees hier meer oor die ernstige nagevolge wat dié besluit kan hê.
Solidariteit is sterk gekant teen voorstelle om bydraes tot die staatsdienspensioenfonds (GEPF) terug te hou om sodoende die regering se begrotingstekort aan te vul.
ʼn Radikale voorstel van die vakverbond Cosatu dat aftreefondsbydraes ingespan word om die tekort van R60 miljard te verhaal om die begroting te laat klop is uiters gevaarlik, en moet dadelik in die kiem gesmoor word.
Die jaarlikse begrotingsrede is verlede week tot 12 Maart 2025 uitgestel nadat partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) nie tot ʼn vergelyk kon kom oor hoe die tekort hanteer moet word nie.
Die ANC het ʼn BTW-verhoging van 2% op eie houtjie probeer deurdruk.
Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit, sê Solidariteit sal beslis optree indien daar gepoog word om om pensioenfondsbydraes terug te hou om die begroting aan te vul.
“Aftreegeld behoort slegs aan pensioenarisse en die werkers wat bydraes aan die GEPF vir hul aftrede maak. Die GEPF behoort nie aan die ANC nie, ook nie aan Cosatu of enige iemand anders nie. Die GEPF mag fondse nét in belang van sy lede aanwend.
“Solidariteit se regspan staan gereed om op te tree indien daar voortgegaan word om GEPF-geld of -bydraes buite die regstreekse belang van sy lede te misbruik,” sê Croucamp.
Solidariteit word intussen reeds deur klagtes van lede van die GEPF oorval – mense wat tereg bekommerd is oor die veiligheid van hul aftreegeld.
Onlangse navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het getoon dat GEPF-lede teen die aanwending van GEPF-fondse vir staatsgebruik gekant is. GEPF-lede het geensins ʼn mandaat gegee wat voorstelle soos dié wat deur Cosatu voorgehou word, regverdig nie.
“Dit sal roekeloos, onoordeelkundig en onregverdig wees om ʼn presedent te skep waar aftreebydraes gebruik word om pa te staan vir die regering se wanbestuur, swak beleide en korrupsie. Dit is hierdie onbevoegdheid en oneerlikheid wat tot ʼn groot mate die begrotingstekort veroorsaak het, en dit is verkeerd om pensioenfondslede daarvoor te penaliseer,” sê Croucamp.