loading
Artikels
11 maande gelede
spookhospitaal-n-nare-ngv-voorbode

Foto Krediet: Verskaf

Spookhospitaal ʼn nare NGV-voorbode

Regeringsplanne om die privaat sektor te vra om van die verlate Kemptonpark-hospitaal in Gauteng ʼn pronkstuk van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te omskep, wys tot watter mate die NGV-planne doodgebore is.
Die Gautengse gesondheidsdepartement wil dié hospitaal, wat sedert die negentigerjare leeg staan, volgens berigte óf opknap óf herbou. 
Die fondse om dit te kan doen ontbreek glo, en daarom wil die departement die privaat sektor om hulp vra.
Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder vir die mediese sektor by Solidariteit, sou betrokkenheid van die privaat sektor inderdaad goeie nuus wees, mits dit nie in die skaduwee van die sentralistiese NGV hoef te geskied nie.
“Solidariteit wil inderdaad sien dat die regering swaarder op die privaat sektor steun. Die behoefte bestaan vir meer privaat gesondheidsorg wat bekostigbaar is, eerder as vir uitgebreide staatsbeheer daaroor.
“Omdat die staat nie die mas met basiese dienslewering opkom nie, besef miljoene Suid-Afrikaners hy sal hoegenaamd nie komplekse gesondheidsorgstelsels kan ontwerp en implementeer nie.
“Daar bestaan eenvoudig geen vertroue in die regering se vermoë om openbare gesondheidsorg te bestuur nie, en selfs al word ʼn alternatiewe stelsel benodig, is daardie stelsel beslis nie die huidige NGV nie,” sê Marx.  
Volgens Marx is die hospitaal in Kemptonpark in werklikheid ʼn gepaste monument vir die verval in staatsgesondheidsorg oor die afgelope 30 jaar – en is dit ʼn waarskuwing téén ʼn staatsbeheerde NGV.
“Hierdie hospitaal is die staat sʹn. Dit spook meer by húlle as by enigiemand anders, want hulle het eenvoudig nie antwoorde daarvoor nie, al word daar oor jare heen al soveel vrae daaroor gevra.
“Pasiënte is oornag na ʼn ander hospitaal oorgeskuif en die toerusting is net so gelaat. Dit is geplunder en beskadig en nou staan daar net ʼn murasie. Sal die privaat sektor dit kan laat herleef? Ja dié sektor kan dit doen, solank hy dit dan ook kan bestuur,” sê Marx.
Volgens Solidariteit het die NGV egter méér sentrale beheer in gedagte, en daarom is dit in alle Suid-Afrikaners se belang om die planne in die hof te keer.
Benewens sy hofstryd teen die NGV, gaan Solidariteit ook ʼn alternatiewe gesondheidsorgstelsel aan die regering voorlê, ʼn stelsel waarin privaat samewerking wél ʼn rol speel om ʼn beter stelsel vir almal te bewerkstellig.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel