loading
Mediaverklarings
5 maande gelede
stop-skadelike-en-obsessiewe-rassewette-nou-hoor-vn

Foto Krediet: Solidariteit

Stop skadelike en obsessiewe rassewette nóú, hoor VN

Solidariteit het op 27 November 2023, in ʼn voorlegging aan die Verenigde Nasies (VN) gevra dat rassewette in Suid-Afrika tot ʼn einde moet kom. Volgens Solidariteit het rassewette genoeg skade in Suid-Afrika aangerig en het die land nie meer die luukse om poste op grond van ras te vul nie. 

Die voorlegging is aan die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) gedoen.

Volgens Solidariteit bepaal die VN se konvensie wat oor die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (ICERD) handel, en die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) dat rasseprogramme tydelik van aard moet wees. Die onlangse skikking tussen Solidariteit en die regering het dit bevestig. 

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die regering se obsessie met rasseverteenwoordiging veroorsaak dat Suid-Afrika se rasprogram permanent is. In ʼn bevolking wat demografies vinnig verander, sal die najaag van rasseverteenwoordiging permanent wees. 
Die tyd van wette wat die rassesamestelling van maatskappye wil manipuleer, is verby. 

“Eskom is ʼn uitstekende voorbeeld van wat gebeur weens rassewetgewing: ʼn obsessie met ras oor ʼn lang tyd het daartoe gelei dat vaardighede en institusionele kennis verlore gegaan het. Dit het letterlik ons ligte afgesit. Die staat plof op verskeie plekke in en groot krake is in die privaat sektor te bespeur,” sê Hermann. 

Die fokus moet verskuif van uitsetprogramme (rassekwotas) na insetprogramme (opleiding en ontwikkeling). Opleiding en ontwikkeling mag permanent wees.

Die stryd tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies duur al sedert 2016. Solidariteit het toe reeds aangevoer dat die regering dié VN-konvensie oortree. Ná ʼn petisie van Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in ʼn verslag bevind Suid-Afrika oortree die betrokke konvensie. Die Suid-Afrikaanse regering moet Dinsdag aantoon waarom hy nie die konvensie oortree nie.

Sien Solidariteit se verslag aan CERD hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel