Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Verkrygingsregulasies se fokus heeltemal misplaas, sê Solidariteit
Solidariteit waarsku dat die konsepregulasies ingevolge die Wet op Openbare Verkryging nie die werklike oorsake van Suid-Afrika se staatsverkrygingsvraagstuk aanspreek nie. Boonop is die regulasies vir kommentaar gepubliseer nog voordat die Konstitusionele Hof oor die grondwetlikheid van die wet beslis het.
Solidariteit het sy omvattende kommentaar op die konsepregulasies by die Nasionale Tesourie voorgelê.
Sien die volledige kommentaar hier.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit, het die grootste korrupsieskandale wat met staatsverkryging in Suid-Afrika verband hou nie ontstaan omdat daar te min sentralisering of te min reëls was nie.
“Die korrupsieskandale het plaasgevind omdat bestaande reëls nie toegepas is nie. Geen hoeveelheid nuwe regulasies sal korrupsie uitwis indien oortreders nie aanspreeklik gehou word nie en indien daar nie behoorlike opleiding en professionaliteit in die staatsdiens bestaan nie,” sê Du Buisson.
Solidariteit wys daarop dat die konsepregulasies meer as 100 bladsye beslaan en bepalings bevat wat óf in die wet self behoort te wees óf waarvoor daar geen grondslag in die wet bestaan nie.
“Dit sluit belangrike anti-korrupsiemaatreëls in, soos permanente uitsluiting van verskaffers en ander kernbepalings wat deur toekomstige ministers verander kan word sonder dat die parlement daaroor besluit.
“Indien hierdie maatreëls werklik as noodsaaklik beskou word om korrupsie te bekamp, hoort hulle in die wet self en nie in regulasies wat enige toekomstige minister relatief maklik kan wysig nie,” sê Du Buisson.
Solidariteit is verder van mening dat die regering onnodig belastinggeld bestee deur met die regulatoriese proses voort te gaan terwyl die Konstitusionele Hof nog oor die grondwetlikheid van die wet moet beslis.
Die moontlikheid bestaan dat die hof die wet geheel of gedeeltelik ongeldig kan verklaar. Indien dit gebeur, sal groot dele van hierdie proses verniet wees.
Hoewel Solidariteit sekere voorgestelde maatreëls, soos die instelling van ʼn openbare verkrygingstribunaal en sterker sekuriteitsmaatreëls teen korrupsie, verwelkom, meen die organisasie dat hierdie positiewe bepalings nie ver genoeg gaan nie en ook nie voldoende in die wet self verskans word nie.
Du Buisson sê Suid-Afrika het ʼn staatsverkrygingstelsel nodig wat belastingbetalers se geld beskerm, waarde vir geld bevorder en korrupsie daadwerklik bekamp.
“Die fokus moet wees op bekwame staatsamptenare, deursigtige besluitneming, streng aanspreeklikheid en die beste waarde vir die publiek. Solank hierdie beginsels nie die kern van die stelsel vorm nie, sal nuwe regulasies alleen nie die land se verkrygingsprobleme oplos nie,” sê hy.
Solidariteit doen ʼn beroep op die Nasionale Tesourie om die finalisering van die regulasies uit te stel totdat die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer het en die geïdentifiseerde gebreke behoorlik aangespreek is.