Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Verpleegkundiges is soveel meer werd as net pleisters en pille
Deur Nadine Steyn
Verpleegkundiges se welstand is baie belangrik. By Solidariteit se verpleegnetwerk is ons daartoe verbind om ons lede se belange altyd eerste te stel. Dit is nie net ʼn slagspreuk nie; dit is ons roeping. In ʼn tyd waar daar ʼn groot tekort aan verpleegkundiges in Suid-Afrika is, is dit noodsaaklik dat ons ons verpleegkundiges ondersteun en bemagtig om ʼn positiewe verskil in hul lewens te maak.
Verpleegkundiges dra ʼn groot las op hulle skouers. Hulle is die hart van die gesondheidsorgstelsel, maar dit beteken ook dat hulle eie welstand dikwels agterweë gelaat word. By Solidariteit glo ons dat dit belangrik is om in programme te belê wat ʼn daadwerklike verskil in verpleegkundiges se lewens maak. Dit sluit nie net e-leerkursusse oor finansiële beplanning en advies in nie, maar ook die ontwikkeling van hul vaardighede deur middel van kursusse in rekenaarvaardigheid en boekhouding.
Nog ʼn groot uitdaging waarmee ons gekonfronteer word, is die tekort aan verpleegkundiges. Daarom is dit ons plig om jong mense bewus te maak van die ongelooflike geleenthede in hierdie beroep. Ons moet hulle aanmoedig om verpleegkunde as ʼn loopbaan te oorweeg en hulle in die regte rigting lei. Solidariteit help ook verpleegkundiges se kinders met skoolloopbaanbeplanning en finansiële ondersteuning, sodat hulle ook die kans kry om te studeer en by te dra tot die gesondheidsorgsektor.
Ons as Solidariteit se Verpleegnetwerk is mal daaroor om verpleegkundiges by te staan in hulle daaglikse uitdagings. Ons weet ons maak ʼn verskil deur raad te gee en tyd met hulle deur te bring. Dit is ʼn voorreg om met mense te werk wat hartsmense is, wat alles sal doen om ander te help, sonder om iets in ruil daarvoor te vra.
Ons netwerk is hier om verpleegkundiges te ondersteun, of dit nou deur advies of bemoediging is. Ons is net ʼn oproep weg. Ons kan net dankie sê vir elke verpleegkundige daarbuite. Julle maak ʼn verskil. Julle help gesinne deur moeilike tye. Julle versorg, julle bemoedig en julle maak mense gesond. Ons het julle hier in Suid-Afrika nodig, en daar is beslis plek vir julle en daarom sê ons #JyHoortHier.
By Solidariteit is ons daartoe verbind om ons verpleegkundiges te ondersteun. Ons lede is nie net lede van ʼn netwerk nie; hulle is deel van ʼn gesin wat omgee en ondersteuning bied in tye van nood. Saam kan ons die verpleegkunde in Suid-Afrika versterk en seker maak dat dit nie net oorleef nie, maar floreer.
Raak betrokke by jou beroepsgemeenskap. Klik hier om jou gratis profiel op Solidariteit te skep of koppel jou lidmaatskap hier.