Fotokrediet: Airlink/Facebook
Gekopieër
Waarom Solidariteit graag Airlink-vlieëniers se ongelooflike Kaapstad-verbyvlug vier
(Fotokrediet: Airlink/Facebook)
Pieter Jordaan
Die lae verbyvlug van ’n Airlink-vliegtuig oor die Kaapstad-stadion voor die tweede toets tussen die Springbokke en die All Blacks het mense behoorlik na hul asem laat snak.
Terwyl duisende Suid-Afrikaners die skouspel gevier het, het sommige – veral buitelandse rusbank-kommentators – dit as onverantwoordelik bestempel. Vir vlieëniers wat jare lank opleiding ondergaan om die kennis en vaardighede vir presies sulke vlugte te bemeester, kan dié oordeel egter maklik minagtend wees.
Volgens Remon Viviers, organiseerder vir die Verdediging- en Lugvaartbedrywe by Solidariteit, bied dié verbyvlug juis ’n geleentheid om erkenning te gee aan ’n beroep waarvan die kundigheid dikwels as vanselfsprekend aanvaar word.
“Ons besef nie altyd watter ongelooflike hoë standaard van opleiding, vaardigheid en professionaliteit dit van ’n vlieënier verg om op hierdie vlak te kan vlieg nie.
“Suid-Afrikaanse vlieëniers is internasionaal gesog juis omdat hulle aan besonder hoë standaarde voldoen,” sê hy.
Viviers sê gereelde terugvoer wat Solidariteit vanuit die buiteland kry, bevestig die sterk werksetiek, pligsbesef en professionaliteit waarvoor Suid-Afrikaanse vlieëniers bekend is.
“Die publiek sien die vliegtuig en die indrukwekkende oomblik. Dit is egter net die eindproduk. Hulle sien nie die jare se opleiding, voorbereiding en verantwoordelikheid wat daaragter lê nie.
“Daardie onsigbare deel van die beroep verdien net soveel erkenning,” verduidelik Viviers.
Die Kaapstad-verbyvlug was daarom veel meer as bloot ’n skouspel en dalk ook baie nodig.
“As hierdie verbyvlug nodig was om Suid-Afrikaners weer te laat besef waartoe ons vlieëniers in staat is, was dit ’n groot sukses – nie net vir Airlink nie, maar vir die hele Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf en sy vlieëniers.
“Dit wys wat Suid-Afrikaanse kundigheid kan vermag.”
Solidariteit se uitvoerende hoof, dr. Dirk Hermann, het kort ná die verbyvlug ook sy trots uitgespreek oor die uitnemendheid wat ten toon gestel is. Hy het daarop gewys dat Solidariteit met trots van die beste vlieëniers ter wêreld by verskeie privaat lugrederye verteenwoordig.
Jaco Kleynhans, hoof van Openbare Skakeling by Solidariteit, sê dié uitnemendheid strek veel verder as een asemrowende verbyvlug.
Volgens Kleynhans vergelyk Suid-Afrika se privaat lugvaartbedryf uitstekend met dié in die VSA en Europa. Hy vlieg feitlik weekliks binnelands en gereeld oorsee, en meen Suid-Afrikaanse binnelandse vlugte is dikwels aangenamer en gemakliker.
“Daar is baie dinge wat in Suid-Afrika verkeerd loop, maar ons privaat lugvaartbedryf is van die beste ter wêreld. Ons is geweldig trots op die groot aantal Solidariteit-lede by lugrederye soos Airlink, FlySafair, CemAir, SAA en ander, en op die uitnemende werk wat hulle doen.”
Vir Solidariteit is die Kaapstad-verbyvlug daarom iets om te vier: ’n paar sekondes se skouspel wat jare se opleiding, kundigheid, dissipline en Suid-Afrikaanse uitnemendheid sigbaar gemaak het.