
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Wen vir twee Wes-Kaapse polisievroue: ontvang meer as R1,4 miljoen in vergoeding
Deur Heléne Mocke
Die Suid-Afrikaanse Polisiedienste (SAPD) moet twee Wes-Kaapse polisievroue R713 141 elk vergoed.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het beslis dat die polisie onbillik teenoor luitenant-kolonel Jolene Nieuwoudt en luitenant-kolonel Hester Gaybba, opgetree het.
Beide Nieuwoudt en Gaybba is reeds jare lank al werksaam in sleutelrolle in die Forensiese- en Speurdienste-afdeling van die polisie. Beide se poste is reeds byna nege jaar gelede op papier opgegradeer na die rang van kolonel. Nietemin het die polisie nagelaat om die twee offisiere in die opgegradeerde poste aan te stel of hulle volgens die nuwe rang te vergoed. Intussen is ʼn ander werknemer in KwaZulu-Natal, wat soortgelyke werksverpligtinge verrig, wél tot kolonel bevorder.
Die saak is namens Nieuwoudt en Gaybba na die KVBA verwys. Etienne Pio, regsverteenwoordiger van Solidariteit, het as hul verteenwoordiger opgetree.
Die KVBA het bevind dat die SAPD op ʼn onbillike wyse opgetree het deur die beamptes nie te bevorder nie, ondanks die feit dat:
- hul poste amptelik as kolonel-poste teen vlak 12 geklassifiseer is;
- beide beamptes reeds vir ʼn lang tydperk die funksies van die opgegradeerde poste verrig het; en
- hul prestasie-assesserings positief was en hulle aan alle vereistes vir die poste voldoen het.
Die KVBA het bevind dat die polisie nie diskresie uitgeoefen het nie, en dat die versuim om die beamptes te absorbeer in die poste of die poste te adverteer, ʼn onbillike arbeidspraktyk ingevolge artikel 186(2)(a) van die Wet op Arbeidsverhoudinge is.
Beide offisiere moet dus vanaf 1 Augustus 2023 terugwerkend bevorder word tot die rang van kolonel met alle voordele wat gepaard gaan met die nuwe rang.
“Ons is dankbaar dat reg en geregtigheid vir die offisiere geskied het. Hierdie oorwinning is nie net ʼn mylpaal vir die twee beamptes nie, maar ʼn bewys dat Solidariteit se regspan sonder vrees teen onreg in die werkplek optree,” sê Etienne Pio. Hierdie saak is ʼn sprekende voorbeeld van waar die SAPD wou poog om dié gesegde realiteit te maak: “Hoekom koop jy die koei as jy die melk gratis kry?”
Hierdie uitspraak dien as ʼn belangrike verwysingspunt vir ander werknemers in soortgelyke omstandighede en beklemtoon die waarde van georganiseerde arbeidsregsbystand wanner dit kom by komplekse arbeidsverhoudinge.