Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Werknemers van Rapport, Beeld en ander Media 24-publikasies kry uiteindelik sekerheid
Werknemers van Media 24 wat te midde van dreigemente oor afleggings by dié mediagroep deur Solidariteit verteenwoordig is, kan nou uitsien na duidelike antwoorde oor hulle toekoms ná die lewering van die Mededingingskommissie se langverwagte uitspraak.
Die oponthoud wat ervaar is met die kommissie se uitspraak oor die verkoop van Media 24 se verspreidingsfiliaal On the Dot en die mediagroep se versameling gemeenskapskoerante aan Novus Holdings, is iets van die verlede nadat die verkooptransaksie die groen lig gekry het.
Daarvolgens sal werknemers van dié entiteite met dieselfde diensvoorwaardes werknemers van die koper, Novus Holdings, word.
Solidariteit het reeds vroeër vanjaar, ná intense onderhandelinge, verseker dat die poste van 66 werknemers van koeranttitels soos Rapport, Beeld en City Press – waarvan die bestaan as gedrukte koerante vanjaar finaal eindig – binne die digitale strukture behoue bly.
Die oorblywende lede wat ook by titels soos dié wat gemeld is werksaam was, moes egter op die kommissie se uitspraak wag om in samewerking met Solidariteit ʼn proses van onderhandeling met Media 24 oor hulle poste te kan afhandel – ʼn proses waartydens vrywillige skeidingspakkette ook op die tafel is.
Volgens Johan Roos, organiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, kan hierdie art. 189-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge uiteindelik nou voortgaan.
“Ons het wel oor die afgelope paar maande met groot intensiteit met die werkgewer gekonsulteer en onderhandel om seker te maak ons lede se belange word wél behoorlik beskerm.
“In hierdie proses wat hom nou gaan uitspeel, kan die verdere poste nog gered word of kan diegene wat moontlik skeidingspakkette verkies, dit so aanvaar. Vir Solidariteit is die begin van die proses inderdaad goeie nuus aangesien ons baie hard gewerk het om ʼn billike en ʼn positiewe uitkoms vir al ons lede te verseker,” sê Roos.
Volgens Roos stel Solidariteit dit onomwonde dat hy geen spesifieke belang by die besluit van die Mededingingskommissie het nie.
Roos voer aan dit het deurgaans oor die belange van die werknemers wat deur hierdie proses geraak word, gegaan en hy beskou dit as verblydend dat ʼn positiewe uitkoms vir bykans alle lede beding kon word.
“Ons prioriteit was altyd en bly steeds om sekerheid en deursigtigheid in hierdie proses te bewerkstellig sodat ons met ons lede se onderhandelinge kan voortgaan en die proses kan afsluit. Vir ons lede wat by Media24 werk, was hierdie proses lank en uitdagend.
“Die mate van duidelikheid en sekerheid wat nou in die proses ontstaan, is vir hulle belangrik. Ons gaan voort om ons lede te ondersteun met die voorneme om die proses bevredigend af te sluit,” sê Roos.
Ofskoon Solidariteit verheug is oor die positiewe uitkoms vir sy lede, beskou hy dit steeds as ʼn jammerte dat koerante soos Rapport, Beeld en Volksblad nie in hulle gedrukte formaat gaan voortbestaan nie, selfs al gaan sekere titels ʼn digitale voetspoor behou.