
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Werksoekwenke vir jong mense sonder ervaring
Deur Karen Waldeck
Jy het jou studie voltooi, hard gewerk en jou toekomsdrome voel binne bereik. Maar wanneer jy by die werksoekproses kom, tref die werklikheid jou: Werkgewers vereis ervaring, en jy het nog nie kans gehad om te veel ervaring op te doen nie. Hierdie situasie is gelukkig nie uniek nie, en daar is heelwat praktiese strategieë om jou te help om hierdie hindernis te oorkom.
Stel ’n sterk CV op
Jy mag dalk nie formele werksgeskiedenis hê nie, maar jy het definitief waarde om te bied. ’n CV wat goed opgestel is kan jou help om dit te kommunikeer. Fokus daarop om jou vaardighede en potensiaal uit te lig, eerder as jou gebrek aan ervaring. Begin met ʼn sterk profielopsomming wat jou unieke eienskappe en doelwitte uitlig. Byvoorbeeld:
“Ek is ’n entoesiastiese probleemoplosser met sterk kommunikasievaardighede en ’n passie vir samewerking. Ek streef daarna om waarde toe te voeg deur hard te werk en vinnig nuwe dinge aan te leer.”
- • Beklemtoon oordraagbare vaardighede: Hier kan jy vaardighede soos tydbestuur, spanwerk, probleemoplossing, en digitale geletterdheid insluit.
- • Gebruik projekte en vrywillige werk: Het jy ’n projek voltooi, vrywillig gewerk, of aan sport deelgeneem? Sluit dit in as bewys van jou vermoë om betroubaar en toegewyd te wees.
- • Aanvaar hulp: Gebruik aanlyn gidse soos die Studeerkamer se CV-gids om seker te maak jou CV is professioneel en in lyn met werkgewers se verwagtinge.
Doen ervaring op terwyl jy werk soek
Werkgewers soek dikwels na mense wat kan wys hoe hulle prakties tot die werkomgewing bydra. As jy nog nie betaalde werk gedoen het nie, is daar ander maniere om ervaring op te doen:
- • Vrywilligerswerk: Dit is ’n uitstekende manier om jou vaardighede te ontwikkel en jou netwerk uit te brei. Dit kan jou ook die geleentheid gee om kontakte op te bou wat tot jou voordeel sal wees in die toekoms.
- • Internskappe: Baie maatskappye bied onbetaalde of korttermyn-internskappe vir jongmense aan. As jy nie seker is waar om te begin soek vir internskappe nie, is Solidariteit se webtuiste die plek vir jou! Besighede plaas gereeld onder Solidariteit se werksoek-portaal internskappe.
- • Aanlyn kursusse: Gebruik platforms soos Coursera, Udemy, LinkedIn Learning of Solidariteit om jou kennis en vaardighede uit te brei.
- • Begin jou eie projek: Of dit nou ’n klein besigheid, blog of gemeenskapsprojek is, dit wys dat jy inisiatief neem.
Gebruik netwerke om werksgeleenthede te vind
Werksoek gaan nie net oor die uitstuur van jou CV nie. Jou netwerk kan die sleutel wees tot jou eerste geleentheid.
- • Gebruik professionele netwerke: Platforms soos LinkedIn en Solidariteit gee jou toegang tot werkgewers en mentors in jou veld.
- • Woon geleenthede by: Loopbaandae, werkwinkels en netwerkgeleenthede gee jou kans om direk met werkgewers te praat.
- • Bly in kontak: Wanneer jy iemand ontmoet, bly gereeld in verbinding deur hulle mee te deel hoe dit met jou werksoekproses gaan.
Vind werk deur Solidariteit
Indien jy sukkel om geskikte geleenthede te vind, kan Solidariteit jou help. By Solidariteit is werk ons hartklop – daarom is Solidariteit soos ʼn middelman tussen werkgewers en werksoekers. Klik gerus op ‘Werk’ op die kieslys op Solidariteit se werkfasiliteringsplatform. Hier kan jy werkprofiele skep, jou CV oplaai en na poste soek wat by jou vaardighede en belangstelling pas. Dit is eenvoudig om te gebruik en verbind jou met werkgewers wat jong talent soek.
Om werk te soek is emosioneel uitputtend, maar dit is belangrik om positief te bly!
- • Stel doelwitte: Skep klein, daaglikse doelwitte soos om een aansoek te voltooi of nuwe vaardighede aan te leer.
- • Wees aanhoudend: As jy nie terugvoer kry nie, moet dit jou nie ontmoedig nie. Elke aansoek bring jou nader aan sukses.
- • Versorg jouself: Maak tyd vir ontspanning en bly gefokus op jou geestelike welstand.
Hoewel dit uitdagend kan wees om werk te soek, is dit ook ’n geleentheid om jouself en jou vermoëns beter te verstaan. Met die regte hulpmiddels en ondersteuning kan jy die arbeidsmark betree en jou loopbaan begin bou. Gebruik aanlyn platforms, ontwikkel jou vaardighede, en sluit aan by netwerke wat jou kan help om jou potensiaal te bereik.
Waarom wag? Begin jou reis vandag nog deur jou CV te bou, nuwe vaardighede aan te leer, en kontak te maak met werkgewers. Jou toekoms is binne jou bereik!
Die beste is, dié werksoekfunksie is GRATIS! Skep jou profiel vandag nog.