Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
24 dae, 7 state en een groot taak vir Solidariteit in die VSA
Deur Charl Oberholzer
Solidariteit en die Solidariteit Beweging is in die VSA met een doel – om ooreenkomste te bereik sodat gewone Suid-Afrikaners nie binnekort sonder werk sit nie. Solidariteit het tot dusver tydens die toer as gasspreker by die Mackinac Republikeinse Leierskapskonferensie opgetree. Dit is die eerste keer ooit dat ʼn Suid-Afrikaner of Suid-Afrikaanse organisasie genooi is en die boodskap was duidelik: Die VSA moet die skurke straf en Afrikaners as ʼn bondgenoot in Afrika gebruik.
“Om Afrikaners te ondersteun, is om ʼn beproefde, vryheidsgerigte gemeenskap te versterk wat kan help om Afrika vir demokrasie en die Weste te herwin.” – Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, se boodskap by die 36ste tweejaarlikse Mackinac Republikeinse Leierskapskonferensie in Michigan, VSA.
Bloedbad van afleggings op pad
Die handelstariewe wat op Suid-Afrika ingestel is weens die regering se mislukte binne- en buitelandse beleid, sal na verwagting 500 000 mense werkloos laat. Solidariteit het die afgelope maand kennisgewing vanaf maatskappye ontvang dat die aflegging van sowat 350 000 werkers reeds onderweg is. Redes wat aangevoer word, sluit in politieke onsekerheid, handelstariewe en die regering se onvermoë om ʼn gunstige omgewing vir sake te skep.
Nuwe handelsraamwerk en sanksies voorgestel
Solidariteit het ook met twee senior Amerikaanse politici, Verteenwoordigers John James en Tom Barrett, beide lede van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, ontmoet. James het reeds drie jaar gelede hom sterk uitgespreek oor die situasie in Suid-Afrika, toe hy in Washington voorsitter van die Afrika-subkomitee was. James is steeds ʼn senior lid van die buitelandse sake-komitee. Barrett, onder meer ʼn komiteelid vir internasionale handel, is verlede jaar tot die Huis verkies en is reeds deeglik bewus van gebeure in Suid-Afrika. Beide verteenwoordigers steun president Trump se uitsprake oor Suid-Afrika.
Namens Solidariteit is ʼn versoek met stawende dokumente, insluitend ons handelsraamwerk, aan beide verteenwoordigers oorhandig. Dié versoek vra vir ʼn heroorweging van handelstariewe teen Suid-Afrika en stel eerder die instelling van alternatiewe sanksies teen die Ramaphosa-regime voor.
Waarom tree Solidariteit in?
Solidariteit tree in omdat dit juis die demokratiese ding is om te doen. Ons kan nie staatmaak op die einste regering wat verantwoordelik is vir 60% jeugwerkloosheid om die krisis op te los nie. Die VSA wantrou die Suid-Afrikaanse regering – en met goeie rede, aangesien Hamas, Iran en Rusland hulle bondgenote is. Suid-Afrika neem saam met Rusland en China deel aan militêre oefeninge in die Indiese Oseaan. Dit is die ANC wat vraagtekens skep oor privaat eiendomsreg en wat weier om die sing van “Kill the Boer” te veroordeel.
Ons hoef nie pro-ANC te wees om pro-Suid-Afrika te wees nie. Inteendeel, om die land te red, moet die wêreld besef dat nie alle Suid-Afrikaners die ANC se radikale ideologie deel nie.
Laai hier die handelsooreenkoms wat deur Solidariteit oorhandig is.