loading
avatar
Artikels
7 uur gelede
solidariteit-gaan-teen-nog-maatskappye-optree-weens-rasvereistes-in-posadvertensies

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit gaan teen nóg maatskappye optree weens rasvereistes in posadvertensies

Deur Pieter Jordaan

Solidariteit gaan die net veel wyer span om op te tree teen maatskappye wat eksklusiewe rasvereistes in posadvertensies plaas.

Dit volg nadat Coca-Cola SA ʼn gewraakte rasadvertensie teruggetrek het juis omdat Solidariteit regsaksie teen die maatskappy geloods het (lees die storie hier).

In die posadvertensie vir ʼn internskap vir werklose jongmense het Coca-Cola ʼn vereiste gehad dat dit ʼn swart kandidaat moet wees.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het dit duidelik gemaak dat daar geen morele regverdiging is om werklose jongmense volgens ras te klassifiseer nie.

Hy het ook beklemtoon hoe daar geen verpligting op maatskappye is om rasvereistes in advertensies te hê nie en genoem dat raseksklusiewe advertensies selfs onwettig is.

Hierdie selfopgelegde plig waarmee werkgewers volhard is iets wat moet stop en daarom gaan Solidariteit minstens 20 ander maatskappye, net soos Coca-Cola, voor stok kry hieroor.

Volgens Hermann is etlike ander maatskappye geïdentifiseer wat ook eksklusiewe rasvereistes in posadvertensies plaas teen wie daar opgetree gaan word.

“Hierdie maatskappye tree nie net immoreel op nie, maar oortree ook verskeie wette en internasionale konvensies. Niemand dwing hulle bestuur om ras in advertensies te plaas nie, en tog volhard soveel maatskappye met diskriminasie.

“Boonop word die skikking tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gesluit is, daardeur verbreek. Die skikking is ook ʼn bevel van die hof gemaak,” sê Hermann.

Solidariteit het lede van die publiek oor die afgelope maand aangemoedig om voorbeelde aan te stuur van maatskappye wat só rigied na ras in advertensies verwys.

Groot getalle voorbeelde hiervan is deur lede van die publiek, wat almal genoeg gehad het van rasmalheid in ons samelewing, aangestuur.

Daarom is Solidariteit oorgehaal om hierdie rasbeheptheid by werkgewers nie meer as die norm te laat voortleef nie, maar om dit as immorele samewerking met ʼn rasmal regering uit te wys.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel