Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit Maandag in hof om raskoors uit regsberoep te hou
Solidariteit gaan die voorgeskrewe raskwotas vir die regsektor vanaf Maandag (4 Mei 2026) in die Pretoriase hooggeregshof beveg wanneer die hofsaak daaroor begin.
Hierdie SEB-sektorkodes (swart ekonomiese bemagtiging) in die regsberoep stel rigiede voorskrifte as sogenaamde “transformasieteikens” vir dié beroep. Dit sluit onder meer vereistes in vir eienaarskap, bestuursbeheer, vaardigheidsontwikkeling en voorkeurverkryging.
Volgens Émil Glas, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Regsnetwerk, verteenwoordig hierdie regulasies ʼn gevaarlike vorm van rasinsypeling in die regsberoep, waar ras toenemend as deurslaggewende maatstaf bo meriete en gelyke behandeling gestel word.
“Die regsberoep behoort juis die bastion van gelykheid voor die reg te wees. Hiervolgens word ras egter ʼn bepalende faktor in toegang tot die beroep. Sodoende word die kern van regspleging self aangetas,” sê Glas.
Volgens hierdie kodes moet regsfirmas binne vyf jaar tot 50% swart eienaarskap en 50% swart bestuursverteenwoordiging bereik, terwyl voorkeurverkryging en die opdraggewing van advokate ook toenemend aan rasgebaseerde teikens gekoppel word.
Hierdie vereistes geld vir firmas met ʼn jaarlikse omset van meer as R5 miljoen, asook vir advokate met ʼn omset van meer as R3 miljoen. Dit beteken dat selfs kleiner praktyke nou onder streng rasregulering geplaas word.
Glas waarsku oor die praktiese implikasies hiervan, wat volgens hom elke uithoek van die regsveld raak en die regsproses deur transformasie-ideologie laat beïnvloed.
“Hierdie sektorkodes raak elke rolspeler in die regsberoep – van kandidaatprokureurs tot senior advokate en selfs kliënte. Dit beïnvloed wie aangestel word, wie bevorder word en uiteindelik wie watter regsverteenwoordiger ontvang.
“Firmas beland onder druk om spesifieke advokate te gebruik om teikens te haal, of om spesifieke aanstellings en bevorderings te maak waar ras eerder as meriete die swaarste weeg,” sê Glas.
Volgens Solidariteit is een van die grootste bekommernisse dat die kodes indirek kliënte se vryheid van keuse raak.
Glas sê kliënte word met ʼn moeilike vraag gekonfronteer wanneer hulle hul regsverteenwoordiging moet kies, naamlik of aanstellings op meriete of op grond van ras gemaak is.
Solidariteit voer verder aan dat die kodes ongrondwetlik is en verskeie fundamentele regte skend, insluitend die reg op gelykheid, vryheid van beroep en billike arbeidspraktyke.
“Hierdie saak gaan nie net oor regulasies nie. Dit gaan oor die toekoms van die regsberoep en of dit ʼn ruimte sal bly waar meriete, onafhanklikheid en regverdigheid voorop staan,” sê Glas.
Solidariteit beskou die saak as ʼn beginseltoets en vra die hof om die besluit om die sektorkodes uit te reik, te hersien en tersyde te stel, en om die kodes as onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik te verklaar.