Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Gryp nóú in om ineenstorting van Gautengse onderwysstelsel te keer – Solidariteit
Solidariteit se Onderwysernetwerk waarsku oor tekens dat die Gautengse onderwysstelsel in duie kan stort sonder ’n dringende plan oor die uitbrei van infrastruktuur, skep van kapasiteit en die nakom van noodsaaklike verantwoordelikhede.
Die erkenning deur die Gautengse LUR vir onderwys, Lebogang Maile, dat 48% van dié provinsie se skole en 64% van sy hoërskole oorvol is en dat daar meer as 80 000 te min plekke vir hoërskoolleerders bestaan, is nie bloot ʼn administratiewe probleem nie, maar ʼn volslae krisis.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, steier die onderwysstelsel landswyd, maar veral in Gauteng, en word dit in die ekonomiese hartland tans net staande gehou deur toegewyde, oorwerkte onderwysers en onvoldoende infrastruktuur wat lankal sy breekpunt bereik het.
“Wanneer byna die helfte van skole oorvol is, praat ons nie meer van ’n uitdaging nie. Dit is ’n sistemiese krisis. Dit is ons kinders se toekoms wat hier op die spel is,” sê Botha.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk se eise wat hy aan die Gautengse Onderwysdepartement stel, is om as ʼn saak van die uiterste dringendheid oor te gaan van vae beloftes na deursigtige, meetbare optrede.
“Daar is dadelik ’n openbare, gedetailleerde multijaar-infrastruktuurplan met duidelike mylpale, begrotings en tydlyne nodig.
“Die publiek moet elke kwartaal kan sien watter projekte vorder, watter kontrakteurs presteer en waarom daar vertragings is. Die tyd vir vae aankondigings is verby,” voeg Botha by.
Volgens Solidariteit is die huidige tempo waarteen skole gebou en uitgebrei word hopeloos onvoldoende om die groeiende vraag te hanteer. Die onderwysowerheid misluk in sy taak om op te tree deur begrotings te herprioritiseer, verkwisting te sny en om bestaande skole se oorblywende kapasiteit te beskerm.
“Die gedwonge inprop van leerders in reeds oorvol skole sonder bykomende en nodige hulpbronne is onverantwoordelik en ondermyn die hele onderwysstelsel. Só dryf jy die enigste funksionele skole en die mense wat die stelsel nog staande hou tot by breekpunt,” sê Botha.
Solidariteit se Onderwysernetwerk stel dit onomwonde dat aanspreeklikheid – of die gebrek daaraan – ook ’n kernkwessie is.
“Wie word verantwoordbaar gehou vir die herhalende siklus van beloftes sonder lewering? Jaar na jaar hoor ons beloftes van nuwe skole, maar die werklike impak op die grond bly bykans onsigbaar.
“Intussen dra onderwysers die grootste las van die krisis. Oorbevolkte klaskamers lei tot meer administrasie, minder individuele aandag aan leerders en ’n verhoogde risiko van uitbranding. Dissipline word moeiliker gehandhaaf, leerderprestasie daal en die vermoë om akademiese uitkomste te bereik word ernstig benadeel.
“Hierdie is dus nie net ’n probleem van onvoldoende infrastruktuur nie. Dit is ’n direkte aanval op die gehalte van onderrig en op onderwysers se vermoë om hul werk doeltreffend te kan verrig. Dit is ook waarom soveel goeie onderwysers die beroep verlaat,” waarsku Botha.
Solidariteit onderstreep hoe die departement self die probleem as ʼn sistemiese kwessie erken en aanvoer dat dit deur faktore soos migrasie, verstedeliking en die stadige tempo van nuwe skoolontwikkeling aangedryf word.
“Onderwys in Gauteng en in die wyer Suid-Afrika stuur op ’n krisis af. Sonder dringende, daadwerklike ingryping gaan die stelsel doodeenvoudig nie meer die druk kan hanteer nie en in duie stort,” sluit Botha af.