loading
avatar
Blogs
3 uur gelede
van-die-klaskamer-na-die-vakbond-wat-elke-onderwyser-behoort-te-weet

Foto Krediet: OkayDeer

Van die klaskamer na die vakbond: Wat elke onderwyser behoort te weet

Tiaan Schoeman

ʼn Doodgewone skooldag kan blitsvinnig in ʼn nagmerrie ontaard – dit weet elke onderwyser goed.

ʼn WhatsApp van ʼn ouer wat hoogs gefrustreerd is oor swak kommunikasie met die skool; ʼn kind wat seerkry in jou klas; ʼn konfliksituasie by die skool; of selfs diefstal by die skool.

Skielik gaan dit nie meer net oor skoolwerk en die bevordering van ʼn positiewe leeromgewing nie. Daar is nou ʼn situasie om te hanteer – kalm en konsekwent. Maar om net te luister of selfs as bemiddelaar op te tree, is nie altyd genoeg nie.

Ek was vir jare ʼn onderwyser, en vandag staan ek aan die ander kant – die vakbond se kant. Dit is waar sake en klagtes hanteer word. En daar is een ding wat nou vir my baie duidelik uitstaan: situasies wat aanvanklik onskuldig lyk, is gewoonlik dié wat die vinnigste die hoogte inskiet – vinniger as wat die meeste onderwysers besef.

In die klaskamer lyk dit dikwels soos gewone skoollewe: ʼn opmerking wat verkeerd verstaan word; ʼn ouer wat ongelukkig is oor iets wat op die WhatsApp-groepie gesê is; ʼn kind wat tydens pouse seerkry; of selfs ʼn sogenaamde onskuldige opmerking wat die rondtes begin maak. Daar is legio voorbeelde.

Maar sulke situasies kan baie vinnig in formele klagtes ontaard. En dan verander alles.

Skielik is daar duisende vrae, verklarings en vorms wat ingevul moet word, en dissiplinêre prosesse wat begin. En skielik moet jy kan bewys wat presies gebeur het.

Dit is die deel waarop onderwysers selde voorbereid is.

Hier is ʼn paar eenvoudige voorstelle wat ʼn groot verskil kan maak wanneer dinge begin skeefloop:

  1. Hou rekord van alles

Jy het reeds hope administrasie – registers, assesserings, verslae en voorbereiding. Maar jou eie beskermingslêer is iets anders. Bewaar notas, e-posse en alle kommunikasie. Wat vandag klein of onbenullig lyk, kan môre van kardinale belang wees.

  • 2. Ken jou kontrak

Baie onderwysers het nie eers ʼn afskrif daarvan nie, of weet nie presies wat daarin staan nie. Tog vorm dit die basis wanneer besluite geneem word.

  • 3. Moenie enigiets blindelings teken nie

Beleide en dokumente word dikwels te vinnig geteken. Onthou: jou handtekening kan later vir of teen jou tel. Doen dus moeite om alles deeglik deur te lees en vra vrae voordat jy instem.

Die realiteit is eenvoudig: wanneer iets skeefloop, beweeg dit vinnig en selde in jou guns as jy nie voorbereid is nie. Jy kan nie elke voorval keer nie, maar jy kan jouself beskerm.

Dit is waarom ondersteuning saak maak wanneer dinge ernstig raak – iemand wat die proses ken en saam met jou kan staan.

Jy dink dalk dat dit nooit met jou sal gebeur nie, maar wanneer dit wel gebeur, maak voorbereiding die grootste verskil.

Sluit vandag nog by Solidariteit aan en word deel van die Onderwysernetwerkgroep. Só kan jy verseker dat jy nie onkant gevang word nie, en dat jy nie alleen hoef te staan wanneer dinge in die klaskamer skeefloop nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel